Oscar Pistorius-moordverhoor: MRK verwerp aanklag teen staatsaanklaer Gerrie Nel

Staatsaanklaer Gerrie Nel  Foto: Siphiwe Sibeko/Reuters/Pool (SAPA)

Staatsaanklaer Gerrie Nel Foto: Siphiwe Sibeko/Reuters/Pool (SAPA)

Die Menseregtekommissie het ʼn klag teen staatsaanklaer Gerrie Nel verwerp.

“Die MRK het bevind dat die hof deur die loop van die hofverrigtinge sy outoriteit behoorlik uitgeoefen het,” het die kommissie Dinsdag in ʼn verklaring gesê. “Die getuie is verteenwoordig en sy verhaalreg was beskikbaar deur die hof om stappe te doen indien dit behoorlik is.”

Die klaer, Jan Landman, het die kommissie versoek om ondersoek in te stel na die manier waarop Nel sy kruisondervraging van die moordbeskuldigde Oscar Pistorius hanteer het.

Landman, ʼn voormalige kommissaris vir die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kulturele, Godsdienstige en Linguistiese Gemeenskappe, het die MRK versoek om te bepaal of dit toelaatbaar is dat Nel na Pistorius as ʼn leuenaar verwys tydens sy kruisondervraging.

Landman het gesê na sy mening is Nel besig om Pistorius se reg te skend tot ʼn regverdige verhoor. Hy het aangevoer Nel het Pistorius se reg om as onskuldig geag te word, sy reg tot vryheid van uitdrukking, en om te verseker dat sy menswaardigheid beskerm en gerespekteer word, geskend.

Die kommissie het gesê sy magte word in hierdie sake bepaal deur ʼn statuut wat hom nie toelaat om sake, wat voor geregtelike tribunale en forums, insluitend howe aangehoor word, te ondersoek nie.

“Die MRK is tevrede dat voldoende beskerming in plek gestel is op die vlak van die hofproses en spesifiek vir die getuie en het besluit om nie hierdie saak verder te voer nie,” het die kommissie in die verklaring gesê.

Die kommissie doen ʼn beroep op die publiek om die hof se outoriteit en die regte van die kommentators te respekteer.

“Die publiek word ook versoek om onnodige sirkulasie van grafiese materiaal, wat in die hof aangebied word, te beperk, uit respek vir die oorledene en haar familie.”

Pistorius word van moord aangekla nadat hy Reeva Steenkamp op 14 Februarie 2013 deur ʼn geslote toiletdeur in sy huis in Pretoria-Oos doodgeskiet het. Hy voer aan hy het haar vir ʼn inbreker aangesien. Hy staar ook aanklagte wat verband hou met die oortreding van die Vuurwapenwet in die gesig. Hy het onskuldig gepleit op alle aanklagte. -SAPA

Klik hier om die hooftrekke van die hofverrigtinge gratis op Maroela Media te volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Cornelia ·

Ek haal my hoed af vir Gerrie Nel. ‘n Baie “Media Belangstellende Saak”.!. Eerste in SA Regs Geskiedenis. Knap Gedaan,
Mnr Nel.! Van die Reg weet ek absoluut niks, het nou baie kennis ingewin op my oudag!
Mag Reg en Geregtigheid Geskied.

Mercia ·

Dis nou weer mense wat ñ geleentheid gesoek het om ook bietjie in die nuus te kom en het gehoop dit werk. Siestog, ook maar honger vir publisiteit!!:-).

Mercia ·

Die twee menere moet vir ñ slag gaan kyk hoe word aangeklaagdes ondervra. Oscar is geen uitsondering nie en sy bekendheid maak hom niks beter as enige iemand wat van dieselfde misdaad verdink word nie.

Peter Says ·

Oscar, jy beweeg op baie, baie dun ys. GN, gaan jou braai.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.