Oscar Pistorius-moordverhoor: Oscar glo op stompies toe hy deur oopbreek

Kol. Johannes Vermeulen, forensiese kenner van die polisie, hou 'n krieketkolf voor die deur uit moordbeskuldigde Oscar Pistorius se huis Foto: Werner Beukes/SAPA/Pool (SAPA)

Kol. Johannes Vermeulen, forensiese kenner van die polisie, hou ‘n krieketkolf voor die deur uit moordbeskuldigde Oscar Pistorius se huis Foto: Werner Beukes/SAPA/Pool (SAPA)

Kol. Johannes Vermeulen, forensiese analis van die polisie, het Woensdag getuig Oscar Pistorius het moontlik nie sy prostese aangehad toe hy, die aand nadat hy Reeva Steenkamp doodgeskiet het, ʼn toiletdeur wou oopbreek nie.

Vermeulen se getuienis is teenstrydig met Pistorius se inligting wat hy tydens sy aansoek om borgtog ingedien het.

Vermeulen moes Woensdag verduidelik waarom hy sommige van sy bevindings nie by sy verslag oor Reeva Steenkamp se noodlottige skietwonde ingesluit het nie. Hy het aan die Pretoriase hooggeregshof gesê hy het nie gedink dit is ʼn kwessie nie. Sy lêer oor die saak is reeds gesluit.

Hy het tydens Pistorius se moordverhoor getuig oor ʼn krieketkolf wat gebruik is om ʼn geslote toiletdeur af te breek nadat hy Steenkamp daardeur geskiet het.

Vermeulen het meer as 29 jaar ondervinding in wetenskaplike analise en het meer as 1 400 forensiese ondersoeke afgehandel.

Barry Roux, vir Pistorius, wou weet waarom Vermeulen nie in sy verslag aangedui het dat Pistorius op sy stompies was toe hy die deur afgebreek het nie. Vermeulen het gesê hy het nie gedink dit is ʼn kwessie nie.

Volgens Vermeulen moes hy slegs bepaal of die merke op die deur verband hou met die krieketkolf. “Ek is nie gevra om te bepaal of Pistorius sy prosteses aangehad het of nie en dit is waarom dit nie in my hoofgetuienis vervat is nie,” het hy gesê. Hy het dit glo in November tydens ʼn vergadering met staatsaanklaer Gerrie Nel as ʼn kantlynaantekening genoem, maar nie geweet “dit is ʼn kwessie” nie.

Roux wou by Vermeulen weet waarom dit dan nie in sy verslag vervat is nie. “In daardie stadium was my lêer reeds gesluit,” het hy gesê. Hy sê polisiebeampte Mangena het reeds op 30 April bevestig dat Pistorius op sy stompies was en daarom het hy gedink dit is nie ʼn kwessie nie.

Die toiletdeur waardeur Pistorius vir Reeva Steenkamp doodgeskiet het, is Woensdagoggend in die hof opgestel in ‘n wit, vertikale raam. Die krieketkolf, wat Pistorius die aand gebruik het, was ook in die hof. Die raamwerk is ʼn replika met die presiese dimensies van die toilet op die toneel.

Die merke op die deur word ondersoek om te bepaal of Pistorius wel sy prosteses aangehad het toe hy die deur met die krieketkolf oopgebreek het. Sonder sy prostese is Pistorius se skouerhoogte ongeveer 1.25 m. Die hof het gehoor dat Pistorius met sy “bene” langs sy bed slaap. Hy het tydens sy aansoek om borgtog erken hy het vier skote deur die deur geskiet omdat hy gedink het ʼn inbreker is binne die toilet. Hy het gesê hy was in daardie stadium op sy stompies en was vreesbevange.

Pistorius het in sy aansoek om borgtog gesê toe hy terugkom by die bed was Steenkamp nie daar nie en het toe besef sy kon moontlik in die toilet wees. “Ek het probeer om die toiletdeur oop te maak, maar dit was gesluit,” het Pistorius tydens sy borgaansoek gesê. “Ek is terug na die slaapkamer, en het die skuifdeur oopgemaak om na die balkon uit te gaan en om hulp te roep.” Hy het daarna sy prosteses aangetrek, teruggehardloop na die badkamer en probeer om die toiletdeur oop te skop. “Ek moes toe seker die ligte aangeskakel het. Ek is weer terug na die slaapkamer om my krieketkolf te kry om die toiletdeur oop te breek.”

Vermeulen het Woensdag die krieketkolf geneem en posisie ingeneem om die deur af te breek. Die punt waar die kolf aan die deur raak, is hoër as die merk wat gemaak is toe Pistorius die deur afgebreek het. Die bestaande merk, wat deur Pistorius gemaak is, is 1.53 m hoog. Die punt waar Vermeulen die deur sou tref is 1.85 meter hoog. Om die merk op 1.53 m te maak, moet hy oorbuig in ʼn “onnatuurlike, ongemaklike posisie”. Hy het toe op sy knieë voor die deur gestaan en weer die kolf geswaai. Die punt van impak is dan ongeveer 1.25 m, wat voorstel dat Pistorius moontlik op sy stompies was toe hy die kolf geswaai het.

Die tweede merk wat die krieketkolf op die deur gemaak het, is ʼn paar sentimeter bó die deurhandvatsel.

Pistorius word van moord met voorbedagte rade beskuldig nadat hy Reeva Steenkamp op 14 Februarie 2013 by sy huis in Pretoria-Oos doodgeskiet het. Hy staar ook twee aanklagte wat verband hou met die oortreding van die Vuurwapenwet in die gesig. -SAPA

Bly gratis op hoogte met hooftrekke van die hofverrigtinge op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

marlene ·

Ek dink as dit ek was sou ek die krieket kolf omdraai en met die agerkant van onderaf die deur moker. op my prostese !!!! sou dit eerder glo. Hoekom sou hy die voorkant van die raket gebruik.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.