Oscar Pistorius-moordverhoor: Polisie se brouwerk aangeval

Oscar Pistorius op dag 10 van sy moordverhoor, 14 Maart 2014 Foto:  Phill Magakoe/Independent Newspapers Ltd/Pool (SAPA)

Oscar Pistorius op dag 10 van sy moordverhoor, 14 Maart 2014 Foto: Phill Magakoe/Independent Newspapers Ltd/Pool (SAPA)

Barry Roux SC, vir Oscar Pistorius, het Vrydag die polisie-ondersoek en geloofwaardigheid van kol. Giliam van Rensburg, voormalige bevelvoerder van die Boschkop-polisiestasie, aangeval.

Van Rensburg en Hilton Botha, voormalige ondersoekbeampte van die polisie, was eerste op die toneel nadat die atleet Reeva Steenkamp op 14 Februarie 2013 in sy huis in Pretoria-Oos doodgeskiet het.

Roux het Van Rensburg daarvan beskuldig dat hy sy getuienis gebruik sodat Botha nie hoef te getuig in die saak nie.

Van Rensburg moes tydens sy getuienis erken dat hy gesien het hoe ʼn ballistiese polisiebeampte ʼn vuurwapen op die toneel hanteer sonder om handskoene te dra. Hy het vroeër ook erken dat een van Pistorius se duur horlosies van die toneel verdwyn het.

Hy het daarna die toneel beveilig om seker te maak dat die misdaadtoneel en bewysstukke, veral die toiletdeur waardeur die skote gevuur is, nie besmet raak nie.

Hy sê Pistorius was baie emosioneel toe hy by die toneel opgedaag het. “Ek sal nie sê hy was onstabiel nie, maar hy was baie ontsteld,” het hy gesê. Volgens Van Rensburg kon Pistorius die eerste twee keer nie sy vraag beantwoord oor wat gebeur het nie. “Ek het aangeneem dat dit weens sy emosionele toestand is, hy kon nie antwoord nie,” het Van Rensburg gesê.

Van Rensburg en Botha het intussen uit die polisie bedank. Van Rensburg het in Desember afgetree en is nou ʼn sportafrigter. Botha het kort ná Pistorius se aansoek om borgtog bedank. Tydens die borgtogaansoek het Botha erken hy
het dalk die misdaadtoneel besmet deur nie plastiek-skoenbeskermers te dra nie. Botha is ook aan die saak onttrek nadat dit bekend geword het hy staar sewe aanklagte van poging tot moord in die gesig. Dit spruit uit ’n voorval in 2009 toe hy na bewering op ’n minibustaxi geskiet het omdat hy gedink het ’n passasier is ’n verdagte.

Pistorius het onskuldig gepleit op aanklag van moord met voorbedagte rade. Hy beweer hy het Steenkamp vir ʼn inbreker aangesien toe hy vier skote deur die geslote toiletdeur geskiet het. Hy staar ook aanklagte wat met die oortreding van die Vuurwapenwet verband hou, in die gesig. -SAPA

Volg hooftrekke van die hofverrigtinge gratis op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Annatjie ·

Dit bly maar ‘n hartseer saak beide vir die Pretorius en die Steenkamp families. Net die Liewe Vader weet presies wat hier gebeur het.

Slim Daan ·

Jaaaa Annatjie.
Meer hartseer eerder as die Reeva-gesin moet sien dat die moord van hul dogter ondergrawe word deur persone wat meer daarop uit is om horlosies te steel, as wat hul die beskuldigde op korrek-voorskriftelike wyse arresteer en suksesvol voor die hof daag.
PS
Wys jou waar le hul prioriteite. Eerder daarop uit om te kyk wat is daar te aas anders as om geregtigheid te laat geskied.

Leana ·

Slim Daan ek hoor wat jy se, maar ek voel tog die diefstal episode gebruik word om die SAPD verder te inkrimineer en as onbevoeg en korrup te bewys. Daar word hopeloos te veel aandag gegee aan snert.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.