Oscar Pistorius-moordverhoor: Restaurant-eienaars getuig oor geweerskoot

Oscar Pistorius op 5 Maart 2014 in die hof Foto:  Mike Hutchings/Reuters/Pool (SAPA)

Oscar Pistorius op 5 Maart 2014 in die hof Foto: Mike Hutchings/Reuters/Pool (SAPA)

Jason en Maria Loupis, eienaars van die Tasha’s-restaurant in Melrose Arch, het Woensdag in die Pretoriase hooggeregshof tydens Oscar Pistorius se moordverhoor getuig oor ʼn geweerskoot wat in Januarie in dié restaurant afgevuur is.

Die voorval het op 11 Januarie 2013 plaasgevind. Jason Loupis het getuig daar was ongeveer 200 mense in die restaurant. “Ek het ʼn harde knal gehoor,” het hy gesê. “Dit het soos ʼn geweerskoot geklink, maar ek het gehoop dis ʼn ballon.” Hy het ontdek die skoot het van Pistorius se tafel af gekom.

Die Loupis-egpaar se getuienis hou verband met ʼn aanklag van die roekelose hantering van ʼn vuurwapen.

Loupis het gesê Pistorius, die bokser Kevin Lerena, Darren Fresco, en die Britse atleet Martyn Rooney het koeldranke gedrink. Hy wou by hulle uitvind wat gebeur het. Fresco het glo aan Loupis gesê die vuurwapen het afgegaan toe dit uit sy sweetpakbroek geval het.

Lerena het vroeër getuig Pistorius het die skoot laat afgaan. Hy het glo ná die skoot gevra of enigiemand beseer is en het Fresco gevra om die skuldlas te dra, aangesien hy nie aandag wou trek nie. “Oscar het gesê, ‘asseblief, Darren, sê dit was jy. Ek wil nie spanning om my hê nie. Dra jy asseblief die blaam’,” het Lerena getuig.

Pistorius se prokureur, Barry Roux, het onder kruisverhoor dit aan Loupis gestel dat Pistorius die rekening betaal het en aangebied het om die skade te betaal wat deur die skoot veroorsaak is. Loupis sê hy kan onthou dat die rekening betaal is, maar kan nie enige aanbod van Pistorius onthou om die skade te betaal nie.

Maria Loupis het direk ná haar eggenoot getuig dat sy ook na die tafel is nadat die skoot afgegaan het. Sy het gesê ʼn kind het langs die vriende se tafel gesit. Sy het glo, nadat Fresco gesê het hy het die skoot laat afgaan, hom daarop gewys dat veiligheid eerste moet wees indien mens ʼn vuurwapen besit.

Die hof het vir die dag verdaag nadat die restauranteienaars verskoon is.

Oscar Pistorius word van moord beskuldig nadat hy Reeva Steenkamp op 14 Februarie 2013 in sy huis in Pretoria-Oos doodgeskiet het. Hy voer aan hy het haar vir in ‘n inbreker aangesien. -SAPA

Klik hier om hooftrekke van die hofverrigtinge gratis op Maroela Media te volg.

Hiermee beeldmateriaal van die hofverrigtinge op 4 Maart 2013.
Die insetsel is deur eNuus vervaardig. Kyk eNuus elke aand om 19:00 op kanaal 144 en 145 op DStv.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Hendrina Lambert ·

Hierdie is een van die hartseerste stories. Omdat Oscar vir ons in Sportskringe so ‘n fantastiese prentjie geword het en vandag moet hy in ‘n hof staan vir Moord op Reeva….. Hoop maar dinge sal Goed vir hom uitwerk. Sterkte aan almal wie hierdeur geraak word!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.