Oscar Pistorius-moordverhoor: Staat bring aansoek vir waarneming

Oscar Pistorius op 13 Mei 2014 in die hof Foto: Daniel Born/The Times/ Pool

Oscar Pistorius op 13 Mei 2014 in die hof Foto: Daniel Born/The Times/ Pool

Die staat het Dinsdag ʼn aansoek voor die Pretoriase hooggeregshof gebring om die moordbeskuldigde Oscar Pistorius vir waarneming te laat opgeneem.

“Ons besef dat indien die aansoek goedgekeur word, dit tot ʼn vertraging in die hofverrigtinge sal lei,” het staatsaanklaer Gerrie Nel gesê.

Merryll Vorster, ʼn forensiese psigiater, het Maandag gesê Pistorius ly aan ʼn algemene angsversteuring. Nel sê dit word as ʼn geestelike siekte beskou en is ʼn baie ernstige afwyking. “Die feit dat dit ʼn psigiatriese analise is, kan ʼn rol speel. Daar was nog geen aanduiding van enige abnormale angs gedurende die hofverrigtinge nie,” het hy gesê.

Nel het ook die tydsberekening van Vorster se getuienis bevraagteken. “Dit kan wel ʼn rol speel,” het hy gesê. Vorster het Pistorius eers ná sy eie getuienis onderskeidelik op 5 Mei en 7 Mei gesien. “Die konsultasie het ná die beskuldigde se getuienis plaasgevind. Daar moet ʼn rede wees waarom die konsultasie in hierdie stadium plaasgevind het.”

Nel sê Pistorius se aanvanklike verdediging was selfverdediging, daarna outomatisme en nou ʼn geestelike siekte. Hy sê die hof moet weet wat die verdediging gaan wees. Hy sê indien ʼn sielkundige afwyking moontlik ʼn invloed gehad het op dit wat gebeur het, moet die hof daarvan weet.

Regter Thokozile Masipa sal Woensdagoggend om 09:30 haar uitspraak oor die aansoek lewer.

Pistorius word aangekla van moord nadat hy Reeva Steenkamp op 14 Februarie 2013 by sy huis in Pretoria-Oos doodgeskiet het. Hy voer aan hy het haar vir ʼn inbreker aangesien. Pistorius staar ook aanklagte wat verband hou met die oortreding van die Vuurwapenwet in die gesig. Hy het onskuldig gepleit op alle aanklagte. –SAPA

Klik hier om gratis die hooftrekke van die hofverrigtinge op Maroela Media te volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.