Oscar Pistorius-moordverhoor: Staat sluit sy saak af

Aimee Pistorius troos haar broer op 25 Maart 2014 in die hof Foto: Esa Alexander/Times Media Group/Pool (SAPA)

Aimee Pistorius troos haar broer op 25 Maart 2014 in die hof Foto: Esa Alexander/Times Media Group/Pool (SAPA)

Die staat het Dinsdag in die Pretoriase hooggeregshof sy saak in die Oscar Pistorius-moordverhoor gesluit.

Die staatsaanklaer Gerrie Nel het aan regter Thokozile Masipa gesê die staat sluit sy saak. Barry Roux, vir Pistorius, het daarna uitstel versoek om met getuies te konsulteer. Masipa het die versoek toegestaan. Die verhoor hervat weer Vrydag.

Die hof het Dinsdag gehoor daar is oor ʼn tydperk van drie jaar 11 misdade aangemeld in die Silver Woods-landgoed, waar Pistorius Reeva Steenkamp doodgeskiet het. Een behels Steenkamp se dood en een die diefstal van een van Pistorius se luukse horlosies ná die skietvoorval, het ao Hendrick Maritz getuig. Daar was ook ander voorvalle van bedrog, diefstal en ʼn huisroof op 24 Oktober 2011. Die periode waarna Maritz verwys is Januarie 2011 tot April 2013.

Kol. Johannes Vermeulen is Dinsdag weer geroep om te getuig oor ʼn ekstra merk op die toiletdeur waardeur Pistorius Steenkamp geskiet het. Die deur is nog steeds in die hof opgestel. Roux wou by Vermeulen weet waarom daar nie foto’s van die merk in die polisiealbums bestaan nie. “Daar is geen rede vir my om te ontken dat die merk deur die krieketkolf veroorsaak is nie,” het Vermeulen gesê.

Pistorius het ʼn krieketkolf gebruik om die geslote toiletdeur oop te breek nadat hy Steenkamp geskiet het.

Roux het gesê hy het dit nie by die bewyse ingesluit nie, aangesien Pistorius nie die hoogte van die merk sou kon haal as hy op sy stompies was nie. Vermeulen het vroeër getuig Pistorius was, volgens sy bevindings, op sy stompies toe hy die deur oopgebreek het. Dit is in teenstelling met Pistorius se verklaring tydens sy aansoek om borgtog dat hy sy prostese aangetrek het voordat hy die deur oopgebreek het.

Roux wou Dinsdag aan die hof bewys dat “meer as 90%” van die WhatsApp-boodskappe tussen die atleet en Steenkamp liefdevol was.

Francois Moller, ʼn data-analis van die polisie, het Maandag ʼn WhatsApp-boodskap van Steenkamp aan die hof voorgehou waarin sy verklaar dat sy somtyds bang is vir Oscar en hoe hy teenoor haar gaan reageer.

Roux het Dinsdag gefokus op die soene wat deur middel van X’e tussen die paartjie gestuur is, en troetelname soos “Baba” en “Boo”.

Roux het ook kringtelevisiebeeldmateriaal van Pistorius en Steenkamp in die hof gewys. Die paartjie is op 4 Februarie 2013, 10 dae voor Steenkamp se dood, in ʼn winkel afgeneem. Die beeldmateriaal is vroeër op Sky News uitgesaai. Klik hier om die beeldmateriaal te sien.

Volgens Moller was Pistorius se eerste stemoproep nadat hy Steenkamp doodgeskiet het, om 03:19 na “Johan Silver Woods”, die hoof van veiligheid by die Silver Woods-landgoed. Om 03:20 is die foon gebruik om ʼn internetverbinding te maak. Volgens Moller sluit dit die gebruik van sosiale netwerke soos Twitter, Facebook of WhatsApp in. Pistorius het om 03:20 die noodnommer 082911 geskakel. Dié oproep het 66 sekondes lank geduur.

Daarna was daar weer ʼn internetverbinding, en dan om 03:21 weer ʼn oproep na Silver Woods-landgoed se veiligheid. Om 03:21 het Pistorius sy stembus gebel, wat moontlik ʼn vingerfout was toe hy geskakel het. Een minuut later het Silver Woods se veiligheidspan hom teruggebel.

Daar was nog internetverbindings en om 03:55 het Pistorius sy vriend Justin Divaris gebel. Om 04:01 het hy sy ouer broer Carl gebel.

Pistorius word beskuldig van moord met voorbedagte rade toe hy Steenkamp op 14 Februarie 2013 doodgeskiet het. Hy staar ook aanklagte wat verband hou met die oortreding van die Vuurwapenwet in die gesig. –SAPA

Klik hier om die hooftrekke van die hofverrigtinge gratis op Maroela Media te volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Slim Daan ·

Ek is bevrees die Staat die streng toets van BO ALLE REDELIKE TWYFEL – in hierdie stadium van die geveg, nie bewys of geslaag het nie. Het werklik gedink die vervolging gaan, veral wat sy laaste getuies aanbetref – spreekwoordelik die haas uit die hoed trek. Dit het nie gerealiseer nie.
Indien die besk inderdaad skuldig is, is die enigste hoop nou gesetel op / in die vernuf van Adv Nel tydens kruisondervraging..
Bestaan daar slegs n sweem van onskuld, kom daardie sweem die beskuldigde toe. In hierdie stadium vd geveg sou ek ( soos dinge tans daar uitsien ) – selfs oorweeg om Pistorius nie te laat getuig nie. In so doende word hy gevolglik nie aan x-ondervraging onderwerp of blootgestel nie.

Leana ·

Dit sal tog jammer wees as daar nog ‘n “O.J. Simpson” rondloop, dit boonop in SA.

pop ·

Mmmmmmm, slim Daan is n regsgeleerde.
Of daar nou bo redelike twyfel of nie enigiets bewys is, is nie van belang nie.
Daai mooie kind is doodgeskiet deur n kort van lont man.
Hy sal seker vry kom ook, daarom dat ek die hele soapie op tv nie eers meer kyk nie.

ESTELLE ·

en van wanneer af is dit “guilty until proven guilty”? ek dog dis “innocent until proven guilty”! net EEN mag judge en dit is nie ons nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.