Oscar Pistorius-moordverhoor uitgestel

Oscar Pistorius op 5 Mei 2014 in die hof Foto: Ihsaan Haffejee/Pool (SAPA)

Oscar Pistorius op 5 Mei 2014 in die hof Foto: Ihsaan Haffejee/Pool (SAPA)

Oscar Pistorius se moordverhoor is Maandag ná slegs twee getuies in die Pretoriase hooggeregshof uitgestel tot Dinsdagoggend.

Barry Roux SC vir Pistorius het aan die hof gesê hulle kon slegs twee getuies vir vandag reël en was onder die indruk dat die twee persone langer in die getuiebank sou spandeer.

Die hofsaak het Maandag hervat nadat dit op 17 April vir meer as twee weke uitgestel is.

Johan Stander, ʼn buurman van die moordbeskuldigde Oscar Pistorius, is Maandag ondervra oor ʼn telefoonoproep van die atleet kort nadat hy Reeva Steenkamp doodgeskiet het.

“Toe hy my bel, het hy gesê hy het ʼn fout gemaak,” het Johan Stander onder kruisverhoor aan staatsaanklaer Gerrie Nel gesê. Nel het hom egter daarop gewys dat die atleet dit nooit gesê het nie. “Waarom sal jy wou insluit dat hy ʼn fout gemaak het?” wou Nel weet. “Dit was ʼn fout wat ek gemaak het,” het Stander geantwoord.

Volgens Stander het hy slegs Pistorius se oproep geïnterpreteer dat die atleet ʼn fout gemaak het.

Pistorius het Stander op 14 Februarie 2013 om 03:18 gebel net nadat hy Steenkamp geskiet het. Die Standers het ook ʼn huis in die Silver Woods-landgoed in Pretoria-Oos waar Steenkamp geskiet is.

Stander het vroeër aan die hof gesê toe Pistorius hom bel, het hy gesê: “Oom Johan, asseblief, asseblief, asseblief kom na my huis toe. Ek het Reeva geskiet, ek het gedink sy is ʼn inbreker. Asseblief, asseblief, asseblief kom gou.”

Stander het Pistorius ontmoet toe hy en sy gesin in Mei 2009 ingetrek het. Hy sê die atleet het hom gereeld gevra om na sy huis en troeteldiere om te sien terwyl hy oorsee aan byeenkomste deelgeneem het. Hy het Steenkamp in Desember 2012 ontmoet en haar weer in Januarie 2013 gesien.

Die hof het gehoor dat geen bykomende diefwering by huise in die landgoed aangebring mag word nie, kragtens die reëls van die landgoed.

Stander het gesê hy en Pistorius het nooit saam gekuier nie en hy het nooit gesien dat die atleet gewapen is nie. Hy het ook nie die aand se gebeure met Pistorius bespreek nie en het slegs ʼn gedenkdiens vir Steenkamp by Pistorius se huis bygewoon.

Stander en sy dogter, Carice Viljoen, was van die eerste persone wat op die toneel aangekom het. Viljoen sê sy het haar motor in die straat parkeer en hulle het na die huis gehaas nadat Pistorius hulp ontbied het. “Die eerste ding wat ek gesien het, was Oscar wat Reeva by die trappe afdra,” het Viljoen gesê. “Hy was rasend, hy wou haar net by die hospitaal kry.”

Sy het glo aan hom gesê om Steenkamp neer te sit sodat hulle kan sien wat fout is. Die atleet het haar glo gesmeek om Steenkamp in die motor te laai en hospitaal toe te neem. “Daar was bloed oral. My pa het na buite gegaan om ʼn ambulans te ontbied,” het Viljoen aan Roux verduidelik.

Sy het gaan handdoeke haal om die bloeding te stop.

Viljoen sê sy het vir Pistorius gevra wat gebeur het, en hy het gesê hy het gedink dit was ʼn inbreker.

Pistorius het glo Steenkamp se sak gaan haal toe paramedici hom vir haar identifikasie gevra het. Viljoen het eers nie saam met hom gegaan nie, maar toe sy besef die vuurwapen is nog op die tweede verdieping, het sy agter hom aangehardloop. “Ek het gedink hy gaan homself skiet en ek het vir hom geskree om die sak te bring.”

Pistorius word van moord aangekla nadat hy Steenkamp deur ʼn geslote toiletdeur geskiet het. Hy voer aan hy het haar vir ʼn inbreker aangesien. Pistorius staar ook aanklagte wat verband hou met die oortreding van die Vuurwapenwet in die gesig. Hy het onskuldig gepleit op alle aanklagte.

Die verhoor hervat Dinsdag om 09:30. -SAPA

Klik hier om die hooftrekke van die hofverrigtinge gratis op Maroela Media te volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Yolanda Jooste ·

Hoe het sy geweet dat die vuurwapen nog steeds in Oscar se kamer is. Vra maar net

Maggie ·

Die eerste ding wat sy gesien het sy mos nou verduidelik, nie die 2de 3de 4de ens nie so wat se stupid vraag is dit Yolanda Jooste.

Theresa ·

Wens die saak wil nou klaar kry…………… Dit irriteer my nou vreeslik! Alles is tog so dramaties en word net onnodig uitgerek.

Elizabeth ·

Theresa – ek STEM! Gatvol vir dit is nie die woord nie. En elke kommentator is ook ‘n “deskundige ” en “was mos daar so weet presies wat gebeur het” ! Ek kan al die ou voorstedelike huisvroutjies wat sit en wag vir die skool om uit te kom vasgenael voor die tv sien sit om alles in te neem en te skinder en bespiegel – siek as jy MY vra. Daar was baie erger moorde en geen spesiale tv uitsendings oor dit nie, die mens het ‘n siek fassinasie met ander se lewens en ongeluk virseker!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.