Oscar Pistorius-moordverhoor verder verleng

Oscar Pistorius Foto: Daniel Born/The Times/Pool (SAPA)

Oscar Pistorius Foto: Daniel Born/The Times/Pool (SAPA)

Die moordverhoor van die Paralimpiese atleet Oscar Pistorius in die hooggeregshof in Pretoria is verder verleng, het die kantoor van die hoofregter Sondag aangekondig.

“Die Oscar Pistorius-verhoor gaan voort van Maandag 24 Maart tot Vrydag 4 April,” het Lulama Luti, woordvoerder van die kantoor van die hoofregter, in ʼn verklaring gesê. Sy sê die hof sal dan tot 11 April in reses wees. “Na die reses sal die verhoor weer op 14 April voortgaan tot Vrydag 16 Mei.” Die verhoor is aanvanklik van 3 tot 20 Maart geskeduleer waarna daar aangekondig is dat dit tot 4 April sou voortduur.

Brian Webber, een van Pistorius se regsverteenwoordigers, het Donderdag bekend gemaak dat Pistorius sy huis in die Silver Woods-landgoed gaan verkoop ten einde sy regskostes te betaal. “Dit is weens die onverwagte verlenging van die verhoor verby die aanvanklike drie weke periode wat dit sou plaasvind,” het Webber in ʼn verklaring gesê.

Pistorius sal weer Maandag in die hof wees nadat die saak Woensdag uitgestel is vir die staat om finale konsultasies met sy getuies te hou. Die staat het aan die hof gesê dat hy beplan om nog vyf getuies te roep om te getuig.

Pistorius word aangekla van moord met voorbedagte rade nadat hy sy vriendin Reeva Steenkamp op 14 Februarie verlede jaar doodgeskiet het. Pistorius voer egter aan dat dit ʼn ongeluk was en dat hy haar vir ʼn inbreker aangesien het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.