Oscar Pistorius-moordverhoor: Verhoor hervat; opsomming van week 1

Oscar Pistorius op die vyfde dag van sy moordverhoor, 7 Maart 2014 Foto: Theana Breugem/Media24/Pool (SAPA)

Oscar Pistorius op die vyfde dag van sy moordverhoor, 7 Maart 2014 Foto: Theana Breugem/Media24/Pool (SAPA)

Die moordbeskuldigde Oscar Pistorius se verhoor hervat Maandag in die Pretoriase hooggeregshof.

ʼn Aantal getuies is verlede week onder uitmergelende kruisverhoor geplaas deur Barry Roux SC, vir Pistorius. Gerrie Nel hou tans die staat se getuienis aan die hof voor ná Pistorius Reeva Steenkamp op 14 Februarie 2013 by sy huis in Pretoria-Oos doodgeskiet het.

Pistorius het erken dat hy Steenkamp in die vroeë oggendure doodgeskiet het. Hy voer aan hy het haar vir ʼn inbreker aangesien toe hy vier skote deur ʼn geslote toiletdeur afgevuur het. Die blonde model, wat in daardie stadium sy meisie was, is in die arm, been en kop getref. Sy is op die toneel dood verklaar.

Pieter Baba, die hoof veiligheidsbeampte by Pistorius se landgoed wat Vrydag getuig het, het gesê Pistorius het hom telefonies gerus gestel ná bure die veiligheidswagte in kennis gestel het van skote by die atleet se huis. Hy het getuig hy kon iemand hoor huil in die agtergrond.

Samantha Taylor, een van Pistorius se eksmeisies, het getuig die atleet het gereeld sy vuurwapen by hom gedra en het met ʼn gelaaide wapen langs hom geslaap.

Drie van Pistorius se bure het verlede week aan die hof gesê hulle is omstreeks 03:00 wakker gemaak deur ʼn vrou se hulpkrete, gevolg deur skote. Een van die bure, radioloog Johan Stipp, het gesê hy is na Pistorius se huis om sy hulp aan te bied. Hy het die 27-jarige Pistorius huilend en biddend langs die sterwende Steenkamp aangetref.

Drie getuies het ook oor ʼn afsonderlike voorval getuig toe ʼn skoot in die Tasha’s-restaurant by Melrose Arch, vermoedelik deur Pistorius, afgevuur is. Dié voorval het ʼn maand voor Steenkamp se afsterwe plaasgevind.

Pistorius het onskuldig gepleit op ʼn aanklag van moord met voorbedagte rade en aanklagte wat verband hou met die oortreding van die Vuurwapenwet. Hy ontken dat hy en Steenkamp voor die voorval baklei het.

Nel het aan die hof gesê die staat moet steun op forensiese en omstandigheidsgetuienis, aangesien daar geen ooggetuies beskikbaar is nie. -SAPA

Klik hier om die hooftrekke van die hofverrigtinge gratis op Maroela Media te volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yolanda Jooste ·

Oscar het haar verseker geskiet, al probeer hy en sy prokereur wat, hy is skuldig, maar omdat hy ‘n bekende is sal hy loskom en daardie arme familie van Reeva en haar ouers, enige aap kan sien hy is skuldig maar daardie prokureur wil die saak laat omswaai alhoewel hy weet hy is skuldig, dit is waarom hy skierlik so naar ek huil in die hof, met die vorige saak het hy geen emosie getoon nie, waar kom dit nou skierlik vandag, maar weereens jy kan van van die gereg probeer wegkom, maar wat in die GROOT BOEK opgeskryf word, sal hy eendag moet gaan rekenskap gee.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.