Oscar Pistorius-moordverhoor: Vonnisoplegging begin vandag

Pistorius het begin huil terwyl Masipa haar uitspraak op 11 September 2014 gelees het. Foto: Kim Ludbrook/EPA/Pool

Pistorius het begin huil terwyl Masipa haar uitspraak op 11 September 2014 gelees het. Foto: Kim Ludbrook/EPA/Pool

Die vonnisoplegging in die saak teen Oscar Pistorius begin Maandag in die hooggeregshof in Pretoria.

Regter Thokozile Masipa het die Paralimpiese atleet op 12 September onskuldig bevind aan die moord op Reeva Steenkamp in sy huis in Pretoria op 14 Februarie 2013, maar skuldig bevind aan strafbare manslag.

Pistorius het Steenkamp deur ʼn geslote toiletdeur geskiet, omdat hy glo onder die indruk was dat sy ʼn inbreker kan wees. Sy is in die heup, arm en kop getref.

“Daar is geen gronde vir hierdie hof om die aanname te maak dat die beskuldigde die oorledene wou vermoor nie,” het Masipa bevind.

Sy het gesê getuienis het bewys dat Pistorius nalatig opgetree het toe hy die skote afgevuur het, en geweet het iemand is agter die deur.

Masipa het Pistorius ook skuldig bevind dat hy in Januarie 2013 ʼn Glock-pistool, wat aan sy vriend Darren Fresco behoort, onder ʼn tafel by Tasha’s-restaurant in Johannesburg laat afgaan het. Sy het bevind hy is onskuldig op aanklag dat hy op 30 September 2012 ʼn skoot deur ʼn oop sondak van ʼn motor afgevuur het met sy 9mm-pistool terwyl hy saam met Fresco en sy eksmeisie Samantha Taylor in Modderfontein gery het. Hy is ook onskuldig bevind op aanklag van die onwettige besit van ammunisie.

Klik hier om alle vorige berigte wat met die Oscar Pistorius-saak verband hou, te lees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.