Oscar Pistorius-moordverhoor: Vriend getuig oor skoot deur sondak

Oscar Pistorius tydens die hofverrigtinge op 11 Maart 2014 Foto: Kim Ludbrook/EPA/Pool (SAPA)

Oscar Pistorius tydens die hofverrigtinge op 11 Maart 2014 Foto: Kim Ludbrook/EPA/Pool (SAPA)

Darren Fresco het Dinsdag in die Pretoriase hooggeregshof getuig oor ‘n skoot wat Oscar Pistorius deur die sondak van ‘n motor gevuur het.

Fresco het in September 2010 die motor bestuur en Pistorius en sy eksmeisie, Samantha Taylor, was in die motor. Hulle is tydens die rit vir ‘n spoedoortreding afgetrek en Fresco het met die metropolisiebeampte staan en gesels toe Pistorius uitgeklim het. ‘n Tweede beampte het Pistorius se vuurwapen op die passasiersitplek sien lê. Volgens Fresco het Pistorius en die beampte ‘n woordewisseling gehad en die atleet het glo aan hom gesê ‘mens vat nie net aan ‘n ander man se vuurwapen nie’. “Hy was ontstoke dat iemand anders aan sy vuurwapen gevat het,” het Fresco gesê.

Die drie het daarna weggery toe Pistorius sonder enige waarskuwing die skoot deur die sondak afgevuur het. Fresco het aan die hof gesê hy het vir Pistorius gevra of hy ‘f****n mal’ is. Die staatsaanklaer wou weet hoe Pistorius hierop reageer het, en Fresco het getuig hy het net gelag.

Taylor het verlede week getuig Pistorius het “uit frustrasie” die skoot afgevuur nadat hulle deur die metropolisiebeamptes afgetrek is. Klik hier om meer te lees.

Pistorius word aangekla van die moord op Reeva Steenkamp op 14 Februarie 2013. Hy staar ook aanklagte wat verband hou met die oortreding van die Vuurwapenwet in die gesig. Hy het onskuldig gepleit.

Fresco het ook getuig oor die voorval in Januarie 2013 in die Tasha’s-restaurant in Johannesburg toe Pistorius glo per ongeluk ‘n skoot in die restaurant afgevuur het. Pistorius het Fresco se vuurwapen in die restaurant hanteer en ná die skoot afgegaan het, hom versoek om die skuld te dra. Klik hier om meer te lees.

Prof. Gert Saayman, patoloog, het Dinsdagoggend aan die Pretoriase hooggeregshof gesê die hof sal ‘n besluit moet maak oor die akademiese literatuur wat Reeva Steenkamp se laaste maaltyd bevraagteken. Barry Roux, vir Pistorius, het studies aangehaal wat variasies in die bevindings oor maaglediging aandui gebaseer op die tipe ete en die persoon wat die maaltyd genuttig het. Saayman het Maandag getuig dat Steenkamp na beraming ongeveer twee uur voor haar dood geëet het. Dié ete het hoofsaaklik uit groente en kaastipe proteïn bestaan. Saayman se getuienis is teenstrydig met Pistorius se verklaring in sy aansoek om borgtog dat hy en Steenkamp omstreeks 22:00 bed toe is nadat sy joga gedoen het.

Bure het vroeër getuig hulle het omstreeks 03:00 op 14 Februarie 2013 gille uit die atleet se huis gehoor.

Saayman het aan Roux gesê hy baseer sy getuienis op literatuur wat hy die afgelope 30 jaar lank bestudeer het en sy ervaring van tussen 10 000 en 15 000 lykskouings. Hy het gesê chirurge maak daagliks die aanname dat ‘n maag ná vier ure leeg sal wees. Hy weet egter nie hoe groot Steenkamp se laaste maaltyd was nie, so dit is nie moontlik om te bepaal watter persentasie reeds verteer was toe sy geskiet is nie. -SAPA

Volg die hooftrekke van die hofverrigting gratis op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.