Oscar Pistorius-moordverhoor: “Zombie-stopper”-video vertoon

Skermskoot uit die video

Skermskoot uit die video

Regter Thokozile Masipa het Woensdag Oscar Pistorius se moordverhoor in die Pretoriase hooggeregshof vlugtig verdaag om ʼn besluit te neem oor ʼn video waar die atleet ʼn vuurwapen as ʼn “zombie-stopper” beskryf.

Staatsaanklaer Gerrie Nel het versoek om die beeldmateriaal in die hof te wys, maar Barry Roux, vir Pistorius, het beswaar aangeteken.

Die video, wat deur Sky News uitgesaai is, wys Pistorius en ʼn paar ander mense by ʼn skietbaan. Die moordbeskuldigde skiet ʼn waatlemoen flenters met ʼn grootkaliber-rewolwer. Ná die waatlemoen ontplof, sê iemand, vermoedelik Pistorius: “Dis nie so sag soos breins nie, maar f** dis ʼn zombie-stopper.” Klik hier om die video te sien.

Nel het Woensdagoggend met sy kruisondervraging begin.

Pistorius het aan Nel gesê hy probeer om nie te jok nie. “Leef jy streng onder jou Christelike beginsels?” wou Nel weet. “Ek probeer, ek is ʼn Christen. Ek dink nie die dinge wat ek doen is altyd reg nie,” het die atleet gesê.

Nel wou by Pistorius weet wat ʼn “zombie-stopper” is en of hy al ooit in die teenwoordigheid was van iemand wat dié begrip gebruik het. Pistorius het gesê hy kan nie onthou of hy die begrip ken en of hy al ooit iemand anders die begrip hoor gebruik het nie. Pistorius het gesê hy sal verbaas wees as daar ʼn video bestaan waarin dié begrip gebruik word.

Nel het Pistorius vroeër gekap nadat die atleet erken het hy het ʼn “fout gemaak”. “Jy het ʼn fout gemaak?” het Nel gesê. “Jy het ʼn persoon doodgemaak. Jy het Reeva Steenkamp doodgeskiet. Hoekom aanvaar jy nie verantwoordelikheid daarvoor nie?” Nel het die beskuldigde daarop gewys dat hy een van die bekendste gesigte in die wêreld is. “Jy is wêreldwyd ʼn model vir atlete en gestremde atlete. Kom ons kom by die waarheid uit.”

Nel het Pistorius gedwing om na ʼn foto van Steenkamp se bebloede kop te kyk en dit te vergelyk met die waatlemoen wat ontplof het. “Jy weet dieselfde ding het met Reeva se kop gebeur. Dit het ontplof,” het Nel aan Pistorius gesê.

Een van June Steenkamp se vriende het haar omhels terwyl die grusame foto van haar dogter vertoon is.

Een van die staatsaanklaers, Andrea Johnson, het tydens die breuk na Steenkamp gestap en aan haar familie, vriende en die galery gesê dat dit daagliks in moordverhore gebeur.

Roux het Woensdagoggend verwys na staatsgetuies se verklarings wat nie tydens die hofverrigtinge as getuies geroep is nie. Twee van Pistorius se bure, Bareng Job Kenneth Motshuane en Michael raymond Nhlengethwa het in hul verklarings aangedui hulle het ʼn gehuil, maar nie ʼn geskree gehoor nie.

Pistorius het Woensdagoggend ook, tydens ondervraging van Roux, gewys hoe hy die toiletdeur geskop en met ʼn krieketkolf geslaan het om die deur oop te kry. Een van die merke op die deur stem ooreen met die hoogte van die swaai van die kolf.

Die atleet het ook getuig hoe hy Steenkamp wou optel, maar gesukkel het. Hy kon ook nie hulp ontbied op haar selfoon nie, aangesien hy nie haar wagwoord geken het nie. Hy moes teruggaan kamer toe om sy selfoon te gaan haal.

Hy het om 03:19 Johan Stander, ʼn veiligheidsbestuurder by die landgoed, geskakel en hulp gevra, omdat hy “sukkel om haar op te tel”. Om 03:20 het hy die privaatambulansdiens, Netcare 911, geskakel. Hy kan nie onthou dat hy met die operateur gesels het nie, maar kan onthou hulle het vir hom gesê hy moet haar na die hospitaal toe neem, en nie wag nie. Hy kan nie sy telefoonoproep om 03:21 na die veiligheidsbeamptes van die landgoed onthou nie. Hy het na die grondverdieping gehardloop om die deur oop te maak vir almal om in te kom.

Hy is toe weer terug na die badkamer en het Steenkamp opgetel. Terwyl hy by die trappe afgekom het, het Stander en sy dogter opgedaag en hy het glo vir hulle geskree om hom te help om Steenkamp by ʼn hospitaal te kry.

Dr. Stipp, een van Pistorius se bure en die eerste dokter op die toneel, het glo vir Pistorius oorweldig gelyk en dit het voorgekom of hy nie kon help nie. “Ek het na hom gekyk en gesmeek dat hy my moet help, dat hy Reeva moet help, maar dit het nie gelyk of hy weet wat hy doen nie.”

Stipp het vroeër getuig dat Steenkamp reeds dood was toe hy by die toneel aangekom het. Hy het gesê Pistorius se vingers was in haar mond in ʼn poging om haar te help om asem te haal.

Stipp het glo ná ʼn paar oomblikke uitgestap. “Ek het vir hom geskree om terug te kom en my te help,” het Pistorius gesê. Paramedici het kort daarna opgedaag en een van die paramedici het Pistorius ingelig dat Steenkamp oorlede is.

Pistorius word van moord met voorbedagte rade beskuldig nadat hy haar op 14 Februarie 2013 by sy huis in die Silver Woods-landgoed doodgeskiet het. Hy voer aan hy het haar vir ʼn inbreker aangesien. Hy staar ook aanklagte wat verband hou met die oortreding van die Vuurwapenwet in die gesig. Hy het onskuldig gepleit op alle aanklagte. –SAPA

Klik hier om hooftrekke van die hofverrigtinge gratis op Maroela Media te volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Thinus van Vreden ·

Kan iemand asb die verskil tussen n geweer, pistool en rewolwer aan die hof verduidelik. Die wapen wat Oscar hier bo vashou is glad nie in dieselfde klas as wat Reeva mee geskiet is nie. Ek sal graag wil sien hoe n mens n geweer onder n tafel aan gee.

Petra Brummer ·

My hart skeur vir beide families maar een ding weet ek……………..

2 Sam 24:14b Laat my liewer in die hand van die Here val, want sy genade is groot. Ek wil nie in die hand van ‘n mens val nie.”

Petra Brummer ·

Dis reg die reg moet sy pad loop maar my hart skeur vir beide families maar een ding weet ek……………..

Ek wil vandag saam met Dawid stem – “Laat my liewer in die hand van die Here val, want Sy genade is groot. Ek wil nie in die hand van ‘n mens val nie.” 2 Sam 24:14

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.