Oscar Pistorius ontken hy het skoot uit sondak gevuur

Oscar Pistorius op 19 Maart in die hof Foto: Leon Sadiki/Citypress/Pool (SAPA)

Oscar Pistorius op 19 Maart in die hof Foto: Leon Sadiki/Citypress/Pool (SAPA)

Die moordbeskuldigde Oscar Pistorius het Dinsdag in die Pretoriase hooggeregshof ontken dat hy ooit ʼn skoot deur die oop sondak van ʼn motor gevuur het.

“Dit het nooit gebeur nie,” het hy aan die hof gesê, terwyl sy prokureur, Barry Roux, hom gevra het oor die gebeure op 30 September 2012.

Staatsgetuies Samantha Taylor (Pistorius se eksmeisie) en Darren Fresco (Pistorius se vriend) het al twee vroeër getuig dat Pistorius doelbewus die skoot afgevuur het nadat die drie vriende deur metropolisiebeamptes afgetrek is.

Pistorius het verduidelik hoe die polisie hulle twee keer afgetrek het, eers omdat die voertuig nie ʼn voorste nommerplaat gehad het nie, en ʼn tweede keer omdat hulle die spoedgrens oortree het. Fresco het bestuur. Hy het ook verduidelik dat een van die beamptes op die toneel sy vuurwapen hanteer het. Pistorius het die wapen afgehaal en op die voorste sitplek neergesit, voordat hy uitgeklim en die beamptes genader het.

Pistorius het erken dat hy ontsteld was dat iemand sy wapen hanteer het. “Ek was geïrriteerd en kwaad,” het hy gesê. Die beampte het die magasyn van die vuurwapen uitgehaal en die koeël uit die kamer laat val. Pistorius en twee beamptes moes die patroon soek nadat dit uitgeval het.

Die atleet ontken ook dat hy ook ʼn .38-vuurwapen of ammunisie vir dié wapen besit het, soos dit in die klagstaat beweer word. “Ek het nooit ʼn .38-kaliber vuurwapen besit nie. Ek het nooit .38-ammunisie besit nie,” het hy gesê. Die wapen het glo aan sy pa behoort. Volgens Pistorius laat die wet jou toe om jou ammunisie aan iemand te gee om in veilige bewaring te hou. Hy was glo nooit van plan om die ammunisie te gebruik nie.

Pistorius erken wel dat hy die vuurwapen vasgehou het toe ʼn skoot in Januarie 2013 onder ʼn tafel in die Tashas-restaurant in Johannesburg afgegaan het. Hy sê hy wou seker maak die vuurwapen is veilig toe Fresco die wapen aan hom oorhandig het. “ʼn Ronde het uit die sluitstuk gekom en die volgende oomblik het ʼn skoot afgegaan,” het hy gesê.

Hy sê hy was kwaad dat Fresco ʼn wapen aan hom gegee het wat nie veilig is nie.

Volgens hom was dit dadelik stil in die restaurant, maar mense het weer begin praat omdat hulle gedink het dit was dalk ʼn ontploffing in die kombuis.

Pistorius sê Fresco het genoem dat hy sal sê die vuurwapen het geval of aan sy broek vasgehaak. “Ek het ʼn fout gemaak om iemand vir ʼn vuurwapen in ʼn restaurant te vra,” het hy gesê. Hy sê Fresco het ook ʼn fout gemaak om die wapen aan hom te oorhandig.

Hy is verlig dat niemand beseer is nie. Hy het glo aan die restauranteienaar gesê dit was sy fout en aangebied om vir enige skade te betaal. Hy het glo nie spesifiek vir Fresco gevra om die blaam te dra nie, maar het wel aan Fresco gesê hy kan nie bekostig dat die storie “uitkom” nie.

Die atleet het vroeër ʼn reeks teksboodskappe tussen hom en Reeva Steenkamp aan die hof voorgehou. Roux wou aan die hof bewys dat die paartjie in ʼn liefdevolle verhouding was.

Die staat het tydens sy saak ʼn paar van die boodskappe aan die hof voorgehou om te bewys dat Pistorius soms jaloers en besitlik was en vinnig sy humeur verloor het.

Pistorius word beskuldig van moord met voorbedagte rade nadat hy Steenkamp op 14 Februarie 2013 by sy huis in Pretoria-Oos doodgeskiet het. Hy voer aan hy het haar vir ʼn inbreker gesien. Hy staar ook aanklagte wat verband hou met die oortreding van die Vuurwapenwet in die gesig. Hy het onskuldig gepleit op alle aanklagte.

Klik hier om die hooftrekke van die hofverrigtinge gratis op Maroela Media te volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Peter Says ·

oscar, jy lieg mos nou, of het jy vergeet wat jy verklaar het. Vonnis die skuldige. Genoeg sensasie.

Marietjie ·

Dan lieg Darren Fresco en Samantha Taylor of lewe in ‘n verbeeldingswêreld van hulle eie. Ja, Oscar die skoot deur sondak het nooit gebeur nie – ook nie die moord op Reeva nie…

petra van vuuren ·

miskien moes hy sy bril opgesit het, voor hy geskiet het, dan sou hy mos “sien” Reeva was nie ‘n inbreker nie!!!!!!!! of hoe???????/

jeana ·

Ai Oscar. Wil jy nie maar net die waarheid en niks anders as die waarheid praat nie ?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.