Oscar Pistorius-saak: ‘Die pyn sal nie weggaan nie’

Oscar Pistorius tydens Donderdag se hofverrigtinge. Foto: Siphiwe Sibeko/Reuters/Pool

Oscar Pistorius tydens Donderdag se hofverrigtinge. Foto: Siphiwe Sibeko/Reuters/Pool

Die pyn wat Oscar Pistorius ervaar weens die dood van Reeva Steenkamp is veel erger as enige straf wat aan hom opgelê kan word, het die hooggeregshof in Pretoria Vrydag gehoor.

“Wanneer jy die dood [van ʼn geliefde] deur nalatigheid veroorsaak, is dit nie net die smart van die verlies nie, daar is iets veel erger. Daar is die verskriklike pyn dat jy die persoon se dood veroorsaak het,” het Barry Roux, Pistorius se regsverteenwoordiger, gesê. “Dit is ʼn emosionele pyn en dit is diep en dit sal nie weggaan nie.”

Roux het gesê Pistorius het nie ʼn rouproses gehad soos iemand normaalweg sal hê wanneer ʼn geliefde sterf nie. Volgens hom het die atleet sy weergawe van die gebeure reeds tydens sy borgaansoek aan die hof voorgehou, aangesien hy nie wou hê mense moet later hul eie stories opmaak nie.
Roux het gesê Pistorius het alles verloor en dit waaraan hy onderwerp is ná Steenkamp se dood, was erger as enige straf. Hy het gesê Pistorius het 18 maande lank al daarvoor betaal. “Hy was alleen. Geen hof se straf kan erger wees as die afgelope 18 maande nie.”

Volgens Roux is die betalings wat hy aan die Steenkamps gemaak het, sy poging tot vergelding vir dit wat gebeur het. Hy het gesê die atleet het alles verloor in die nadraai van Steenkamp se dood. “Hy het sy onroerende bates verloor. Hy het sy roerende bates verloor. Hy het sy borge verloor. Hy is platsak. Hy het niks. Hy het nie eers geld om sy uitgawes te betaal nie.”

Hy het bygevoeg Pistorius het nooit oorweeg dat dit Steenkamp agter die badkamerdeur kon wees nie. Hy het gesê Pistorius is van moord met voorbedagte rade aangekla kort nadat die media betrokke geraak en teorieë begin versprei het.

Volgens Roux het die beskuldigde die slagoffer geword. “Hoe hy haar kop met ʼn krieketkolf verbrysel het, hoe hy haar vermoor het omdat hy steroïdes gebruik het, hoe hy dramaklasse geneem het… dít is waaraan hy onderwerp is. Nog nooit het ek so onregverdige aanval gesien nie.”

Hy het ook na regspraak verwys. Hy het verwys na die saak van Warren Vorster wat sy huishulp se seun doodgeskiet het. Vorster het gedink die seun word aangeval en hy het ʼn skoot afgevuur. Die skoot is deur die venster en het die seuntjie in die kop getref. “Mnr. Vorster was buite homself weens pyn, verlies en berou. Die seun se ma het gevoel haar seun het “soos ʼn dier gesterf”, het Roux gesê. Vorster het ʼn opgeskorte vonnis en gemeenskapsdiens gekry.

Roux het sy slotbetoë afgesluit.

Klik hier om die hooftrekke van die hofverrigtinge gratis op Maroela Media te volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Leeutjie ·

Ek het groot begrip wat Barry Roux se. Oscar het ‘n lewenslange straf. Al word hy tronk toe gestuur, al doen hy gemeenskapsdiens, maak nie saak wat daar besluit word nie, Oscar gaan swaarkry! Binne of buite die tronk gaan nie sy binneste kan verander nie. Sher se liedjie van …If I could turn back time” sou nou die ideaal kon wees.

SNEL ·

Stem saam met jou Leeutjie, en buiten dit het hy almal se oë op hom en het almal iets te sê.

Fransie ·

Dankie Barry Roux – uit my oogpunt is die aanval wat op Oscar gemaak is onmenslik en ongevraagd – hy gaan vir die res van sy lewe weet dat hy die vrou geskiet het waarvoor hy lief was – ek dink dit is ‘n ondraaglike straf bo en behalwe die straf wat die hof hom gaan oplê

PH Mackay ·

Wat van Grieg se dodemars gedurig hoor en die temaliedjie van “The shinihg” Dis n badkamer toneel

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.