Oscar Pistorius-saak: Hof verdaag twee keer oor emosionele eks

Oscar Pistorius en sy suster Aimee 7 Maart in die hof. Foto: SAPA

Oscar Pistorius en sy suster Aimee 7 Maart in die hof. Foto: SAPA

Die Pretoriase hooggeregshof moes Vrydag twee keer verdaag nadat Samantha Taylor, Oscar Pistorius se eksmeisie, te emosioneel geraak het om te getuig.

Taylor (20), met wie Pistorius tussen 2011 en 2012 uitgegaan het, is Vrydag as een van die karaktergetuies na die getuiebank geroep tydens die vyfde dag van Pistorius se moordverhoor.

Taylor het Vrydag onder meer getuig oor die voorval waar Pistorius vanuit die oop sondak van ʼn motor ʼn skoot met sy 9mm-pistool geskiet het. Roux het aangevoer dat die skoot as ʼn grap bedoel is, aangesien Taylor getuig het Oscar en sy vriend het daarna gelag. Taylor het egter gesê Pistorius was woedend nadat die polisie sy vuurwapen hanteer het en het die skoot uit weerwraak geskiet, waarna hy en sy vriend van lekkerte gelag het. Sy het ook gesê dat Pistorius gereeld op haar geskreeu het. Lees meer hier.

Roux het Taylor se getuienis oor die voorval in twyfel getrek en gesê sy weet nie veel van die betrokke dag nie. “Jy het gesê dit was op 30 September 2012, jy onthou nie waar die voorval plaasgevind het nie en weet ook nie of hy jou later die aand by jou huis afgelaai het en of jy na sy huis toe is nie.” Sy het geantwoord dat sy dink hy het haar by haar huis in Johannesburg afgelaai. Roux het daarna aan die hof gesê Pistorius het die dag daarna, op 1 Oktober, gholf by die St Andrews-golfbaan in Skotland gespeel en sou nog soontoe vlieg.

Sy het die eerste keer begin huil toe sy tydens die staat se ondervraging deur Nel getuig het haar en Pistorius se verhouding is beëindig nadat Pistorius haar met Steenkamp verkul het.

Sy het onder kruisverhoor deur adv. Barry Roux, van Pistorius se regspan, weer begin huil toe hy haar uitgevra het oor hoe sy gevoel het tydens die beëindiging van haar en Pistorius se verhouding. “Ek was ontsteld,” het sy gesê voordat sy in trane uitgebars  en die hof vir ʼn tweede keer verdaag het.

Toe die hof weer in sitting was, het sy erken sy het ʼn e-pos aan Pistorius gestuur nadat sy en hy vir die tweede keer hul verhouding beëindig het. Daarin het sy erken sy het  ʼn verhouding gehad met ʼn man wat haar na Brasilië geneem het. Pistorius was in dié tyd in Londen vir die Olimpiese spele. “Ek was eerlik met Oscar en wil dit duidelik maak dat ek hom nie verkul het nie. Ek en Oscar was nie in daardie stadium in ʼn verhouding nie.”

Sy het aan Roux bevestig dat sy in Johannesburg gebly het terwyl sy en Pistorius in ʼn verhouding was en dat sy hom omtrent vier keer ʼn week gesien het.

Roux het haar uitgevra oor beligting in Pistorius se slaapkamer, waarop sy geantwoord het dit is “nogal donker in die aande”. Sy het gesê Pistorius het soms sy gordyne in die aand ʼn bietjie oopgetrek omdat hy 05:00 in die oggende moet opstaan om te gaan oefen. Sy het gesê sy weet nie of die gordyne heeltemal toe was die aand toe Pistorius vir Steenkamp geskiet het nie.

Pistorius se regspan wil na bewering aanvoer dat dit die aand van die skietery baie donker was in sy kamer, en dat hy nie kon sien Steenkamp was nie in die bed nie.

Roux het haar uitgevra oor Pistorius se gemoedstoestand wanneer hy op haar geskree het, waarop sy geantwoord het hy was altyd ontstoke.

“So jy weet nie hoe Pistorius klink as sy lewe in gevaar is of bedreig word nie?” het Roux gevra, waarop Taylor “nee” geantwoord het. Taylor het vroeër getuig as Pistorius op haar geskree het, het hy duidelik soos ʼn man geklink.

Hy het haar oor Pistorius se selfoongebruik uitgevra. “Oscar het twee fone, een wat hy vir sy werk gebruik en een vir persoonlike oproepe. Elke keer as ek daar oornag het, het sy persoonlike selfoon by hom gehad en dit vier tot vyf keer deur die nag gebruik.” Pistorius kan glo nie meer die sleutelkode van sy selnommer onthou nadat hy Steenkamp geskiet het nie. Die staat het ʼn aansoek by Apple ingedien om inligting op die foon te bekom.

Taylor het ook gesê Pistorius het altyd sy vuurwapen by hom gehad en daarmee op die bedkassie of op sy prostetiese bene geslaap het as sy daar oornag het. Roux het aangevoer dat Pistorius met sy vuurwapen onder sy bed slaap, waarop sy geantwoord het dit het nooit gebeur het as sy daar was nie.

Sy het ook aangevoer dat Pistorius een aand in April 2012 die bestuurder van ʼn swart BMW, wat hulle glo agtervolg het, by die veiligheidshekke van die landgoed waar Pistorius se huis is, met sy vuurwapen die skrik op die lyf gejaag het. Roux het daarna gesê dit was  ʼn wit voertuig wat Pistorius agtervolg het en dat hulle, Pistorius en Taylor, inderwaarheid in die swart BMW gery het. Volgens Roux het Pistorius ook nie sy vuurwapen gebruik om die bestuurder van die ander voertuig skrik te maak nie, maar die veiligheidsbeamptes gebel en gesê hy word agtervolg. Hy het aangevoer Oscar het by die landgoed se veiligheidshekke uitgeklim om haar te beskerm, waarop  Taylor geantwoord het dat sy dit nie so onthou nie. Roux het gesê Pistorius was bang was dat hulle aangeval kon word, waarop Taylor geantwoord het nie sy of Pistorius was eintlik bang tydens die voorval nie. Voor die hof vir middagete verdaag het, het sy getuig Pistorius het “een of twee keer” toe sy daar was, gedink daar was ʼn inbreker in sy huis. Sy het een voorval onthou toe Pistorius iets by sy badkamer venster gehoor het. Sy het gesê Pistorius het sy vuurwapen gevat en hy en ʼn vriend, wat die aand ook daar was, het gaan ondersoek instel. Hulle kon niks vind nie.

Staatsaanklaer Gerrie Nel probeer bewys Pistorius het moord met voorbedagte rade gepleeg  toe hy sy meisie, Reeva Steenkamp, verlede jaar op Valentynsdag by sy huis in die ooste van Pretoria doodgeskiet het. Pistorius voer aan hy het Steenkamp vir ʼn inbreker aangesien. Hy word ook van die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie aangekla en staar twee aanklagte van die afvuur van ʼn vuurwapen in die openbaar in die gesig. In Januarie 2013 het hy glo per ongeluk ʼn vuurwapen onder ʼn tafel by die Tasha’s-restaurant in Johannesburg afgevuur en in September 2010 het hy glo in Modderfontein met sy 9mm-pistool ʼn skoot deur die oop sondak van ʼn motor afgevuur.

Die saak duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.