Oscar Pistorius-saak: Nóg ‘n skoot, getuig Oscar se eks

Oscar Pistorius praat met sy prokureur, adv. Barry Roux, op 4 Maart in die hof. Foto: SAPA

Oscar Pistorius praat met sy prokureur, adv. Barry Roux, op 4 Maart in die hof. Foto: SAPA

Samantha Taylor, Oscar Pistorius se eksmeisie, het Vrydag tydens die vyfde dag van Pistorius se moordverhoor getuig en gesê Oscar het gereeld op haar geskree. Sy het gesê hy klink soos ‘n man as hy skree.

ʼn Emosionele Taylor het getuig sy het Pistorius in 2010 ontmoet toe sy 17 was, waarna ʼn verhouding ontwikkel het. Sy het aan die hof gesê sy weet hoe sy slaapkamer in sy huis in die ooste van Pretoria lyk, en dat hy aan die regterkant van sy bed slaap.

Sy het ook gesê sy was bewus daarvan dat hy ʼn vuurwapen gehad het en dat hy dit gereeld saam met hom gedra het.

Sy het gesê Pistorius het eenkeer ʼn skoot met sy vuurwapen afgevuur nadat sy, Pistorius en ʼn vriend ʼn funksie in die Vaal-omgewing bygewoon het.

“Die polisie het die voertuig waarmee ons gery het van die pad af getrek omdat die vriend te vinnig gery het. Pistorius en sy vriend het uit die voertuig geklim en Pistorius het sy vuurwapen op die passasiersitplek agtergelaat,” het sy getuig.

“Die polisie het die vuurwapen gesien en vir Pistorius gesê hy kan nie die vuurwapen so los nie. Die beampte het toe Pistorius se vuurwapen geneem en die patrone uitgehaal, en van die patrone het op die grond geval. Pistorius het woedend geword en gesê die polisie mag nie sy vuurwapen hanteer nie. Hulle het daarna die patrone teruggesit, waarna Pistorius en sy vriend terug in die voertuig geklim en gery het.”

Sy het gesê terwyl hulle weggery het, het Pistorius en sy vriend gelag en Pistorius het gesê hy wil ʼn verkeerslig skiet. Pistorius het toe glo vanuit die voertuig se sondak ʼn skoot afgevuur wat sy as ʼn “harde knal” beskryf het.

Sy het gesê Oscar het op meer as een geleentheid op haar geskree. Hy het glo ook op sekere geleenthede op haar suster en haar beste vriend asook Pistorius se beste vriend, Alex, geskree. Sy het gesê as hy op hulle geskree het, het hy soos ʼn man geklink en glad nie soos ʼn vrou nie.

Sy sê die verhouding het in 2012 tot ʼn einde gekom nadat hy haar glo met Reeva Steenkamp verkul het.

Die saak duur voort en die getuie word deur adv. Barry Roux onder kruisverhoor geplaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Mariaan Hoffeldt ·

Ons sal maar sien wat gebeur. Hy het n goeie advokaad

Eben ·

Mag ons aanneem dat toe die skoot afgevuur is deur die sondag, dat Samantha net in die hoekie verskrik gesit en rond kyk het sonder enige geluid? Daar is baie van ons daar buite wat ook op die daad iets aanvang waarvoor jy eintlik skaam is vandag … miskien gelag het oord ie dom fout.

Samantha moenie dat die ‘haat/hartseer’ wat binne jou skuil al die sleg van jul verhouding na vore bring, daar was seker ook goeie tye, deel dit met die hof!

DottieQ ·

Ek stem saam met jou Eben, mense sien net wat hulle wil op daardie oomblik. Hulle vergeet van al die ander gelukkige tye wat hulle saam met mekaar spandeer.
Die man kan sekerlik nie so onnosel gewees het om sy toekoms sommer net so weg te gooi en moord te pleeg nie.
Dit is vir my so hartseer dat hy elke tweede persoon se hero was in die olimpiese spele maar sodra hy lyk na skuldig verwerp die hele land die “hero” van ‘n paar maande voorheen.

Chris van Wyk ·

Wat vir my nie sin maak nie is dat Reeva die toilet deur gesluit het. As sy gereeld daar gekuier het sou sy mos nie die deur gesluit het nie. Ek sluit nie die deur as ek en my vrou alleen in die huis is nie. Voor ek n skoot skiet sal ek mos eers uitvind waar my vrou is.Ek gaan mos nie sommer net skiet nie. Dit maak nie sin nie. Wonder hoekom Adv gerrie Nel nie gevra het nie.

MartinSc ·

Chris, ek stem saam met jou. Hoekom die deur sluit, behalwe as jy nie wil hê die ander persoon moet jou kan kry nie. Verstaan ook nie hoe hy nie kon sien die bed is leeg toe hy die 9mm gaan haal nie.
Ek volg ook nie die saak heel pad nie en kon seker die verduideliking gemis het

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.