Oscar Pistorius-saak: Staat soek minimum 10 jaar

Pistorius tydens vorige hofverrigtinge. Foto:  Alon Skuy/Times Media Group/Pool

Pistorius tydens vorige hofverrigtinge. Foto: Alon Skuy/Times Media Group/Pool

Regter Thokozile Masipa het Vrydagmiddag bekend gemaak dat sy Oscar Pistorius volgende week sal vonnis nadat die verdediging en staat hul slotbetoë afgehandel het.

Masipa het die saak tot Dinsdagoggend om 09:30 uitgestel en albei partye bedank vir hul “bystand en samewerking” in die saak.

Staatsaanklaer Gerrie Nel het regter Masipa vroeër versoek om Pistorius tot ʼn minimum van 10 jaar tronkstraf te vonnis. Nel het gesê huisarres en gemeenskapsdiens is ʼn “onvanpaste” vonnis vir Pistorius. “Die erns van die misdaad, die belange van die gemeenskap en die slagoffer, oortref die omstandighede van die beskuldigde. Ons het te doen met ʼn bevoorregte persoon.”

Nel het gesê die getuienis wat deur Pistorius se agent, Peet van Zyl, gegee is dat Pistorius ʼn multi-miljoenêr sou gewees het indien die skietery nie gebeur het nie “kan nie ʼn argument wees nie”.

Nel het aangevoer dat indien Pistorius soos ʼn redelike persoon opgetree het, sou Reeva Steenkamp steeds gelewe het. Volgens hom sou Steenkamp ook nog geleef het indien Pistorius haar gevra het of sy ook die geluide hoor wat hy gehoor het en as hy bevestig het dat sy hom hoor, voordat hy met sy vuurwapen na die badkamer is. “As hy nie nalatig of oorhaastig was nie, sou sy nog gelewe het.”

Volgens Nel gebruik Pistorius sy gestremdheid wanneer dit hom pas. “Ek vind dit ontstellend dat ʼn man met ʼn gestremdheid wat saam met gewone atlete deelgeneem het, dit nou skaamteloos as ʼn argument gebruik.”

Nel het ook verwys na Annette Vergeer, ʼn proefbeampte en maatskaplike werker, se getuienis vroeër die week dat gevangenisse nie voorsiening maak vir Pistorius se gestremdheid nie, aangesien daar nie relings in die stort is nie en weens die gladde vloere. Volgens Nel het die stort in Pistorius se huis ook nie ʼn reling gehad nie.

Klik hier om die hooftrekke van die hofverrigtinge gratis op Maroela Media te volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.