Oscar Pistorius se agent blameer die media

Oscar Pistorius kort nadat hy Maandagoggend by die hooggeregshof in Pretoria aangekom het. Foto: Werner Beukes/SAPA/Pool

Oscar Pistorius kort nadat hy Maandagoggend by die hooggeregshof in Pretoria aangekom het. Foto: Werner Beukes/SAPA/Pool

Peet van Zyl, Oscar Pistorius se agent, het Dinsdag aan die hooggeregshof in Pretoria gesê hy wens die media wil ʼn “bietjie meer respek” toon vir die Paralimpiese atleet.

Staatsaanklaer Gerrie Nel het Van Zyl ondervra oor die e-pos wat hy op 22 September aan Barry Roux, Pistorius se regsverteenwoordiger gestuur het. Daar was ʼn foto aangeheg van Pistorius wat met gestremde mense gesels. Van Zyl het in die e-pos geskryf dat “die platforms nou deur die staat en media weggevat is”. Nel het aan Van Zyl gevra wat hy hiermee bedoel. “Ek dink as die media die saak met bietjie meer respek hanteer het, sou mnr. Pistorius steeds uitnodigings [om motiveringstoesprake te lewer] ontvang het.”

Van Zyl het gesê die media berig foutiewelik oor feite en dat Pistorius dalk nog geleenthede sou gehad het indien hulle dit nie gedoen het nie. Die hof het gehoor dat Van Zyl selfs na die skietdood van Reeva Steenkamp nog uitnodigings ontvang het vir Pistorius om motiveringspraatjies te lewer.

Van Zyl het tydens kruisondervraging gesê hy het agterna besef dat dit ʼn “oordeelsfout” was om die staat en die media te blameer. Nel het dit aan Van Zyl gestel dat die agent dié uitlating gemaak het, omdat hy Pistorius as ʼn slagoffer beskou. Van Zyl het dit ontken. Hy het ook getuig oor die liefdadigheidsorganisasies waarby Pistorius betrokke was.

Klik hier om die hooftrekke van die hofverrigtinge gratis op Maroela Media te volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.