Gerrie Nel sal na verwagting Maandagoggend in die Pretoriase hooggeregshof sy kruisondervraging van Oscar Pistorius in sy moordverhoof hervat.
Dit is die atleet se sesde dag in die getuiebank nadat hy Reeva Steenkamp op 14 Februarie 2013 omstreeks 03:00 in sy huis in Pretoria-Oos doodgeskiet het. Hy het vier skote deur ʼn geslote toiletdeur gevuur. Hy voer aan hy het haar vir ʼn inbreker aangesien.
Nel het verlede week Pistorius se bewerings bevraagteken, dat ʼn inbreker by sy huis sou insluip en by die toilet sou instap; dat hy nie vir Steenkamp gevra het of sy ook gehoor het die badkamervenster skuif oop nie; en dat hy nie opgelet het dat sy opgestaan het om toilet toe te gaan nie.
“ʼn Redelike persoon sou gekyk het waar Reeva is om seker te maak sy is veilig, maar jy het net ʼn vuurwapen gegryp,” het Nel Vrydag aan Pistorius gesê.
“Ek was nie reg langs haar toe ek die geluid gehoor het nie. Ek was aan die ander kant van die bed,” het Pistorius geantwoord.
Volgens Pistorius het hy opgestaan om twee waaiers van die balkon af in die kamer in te bring en ʼn denimbroek oor ʼn LED-liggie van ʼn versterker te gooi wat hom gepla het. Hy het gehoor hoe die badkamervenster oopskuif, sy 9mm-pistool gekry en toe na die geluid gestap.
Nel het die staat se saak op 25 Maart afgesluit. Barry Roux, vir Pistorius, het gesê die verdediging sal tot 17 getuies roep. –SAPA
Klik hier om die hooftrekke van die hofverrigtinge gratis op Maroela Media te volg.
Oscar is onskuldig volgens my
Hi jinne Marie onskuldig. Hy het die vrou geskiet net omdat hy snot en trane huil beteken nie hy is onskuldig nie, sou jy so gevoel het as dit jou dogter was?