Oscar Pistorius se ondersoek afgehandel

Oscar Pistorius op die vyfde dag van sy moordverhoor, 7 Maart 2014 Foto: Theana Breugem/Media24/Pool (SAPA)

Oscar Pistorius op die vyfde dag van sy moordverhoor, 7 Maart 2014 Foto: Theana Breugem/Media24/Pool (SAPA)

Die moordbeskuldigde Oscar Pistorius se sielkundige waarneming by Weskoppies Psigiatriese Hospitaal is afgehandel.

Hy is as ʼn buite-pasiënt deur vier spesialiste ondersoek. Nathi Mncube, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, het gesê die ondersoek is afgehandel. “Ons sal die spesialisverslae ontvang en dan sal die hof die pad vorentoe bepaal,” het Mncube aan Sapa gesê.

Hy het sy verwagting uitgespreek dat dié dokumente teen Maandag gereed sal wees, wanneer Pistorius weer in die Pretoriase hooggeregshof moet verskyn. “Daar is drie of vier mense wat verskillende verslae skryf. Die hof kan moontlik meer as een verslag ontvang. Hopelik sal ons dit teen Maandag hê, maar ek kan dit nie met sekerheid sê nie.”

Die hof het op 20 Mei beslis dat Pistorius ondersoek moet word om te bepaal of hy krimineel aanspreeklik gehou kan word toe hy Reeva Steenkamp op 14 Februarie 2013 by sy huis in Pretoria doodgeskiet het. Regter Thokozile Masipa het gesê drie psigiaters en een kliniese sielkundige sal Pistorius ondersoek om te bepaal of sy algemene angsversteuring en sy gestremdheid ʼn invloed op hom gehad het toe hy die misdaad gepleeg het.

Pistorius se prokureur, Brian Webber, het Vrydag gesê hulle is gereed om Maandag weer hof toe te gaan. “Ons sal na verwagting ons bewyse afhandel wanneer die saak hervat so dit sal moontlik ʼn paar weke lank duur,” het hy aan Sapa gesê.

Pistorius het op 26 Mei om 09:00 by Weskoppies aangemeld en elke weeksdag daarna.

Die drie psigiaters was dr. L Fine vir die verdediging, prof. HW Pretorius vir die hof en een persoon van Weskoppies, wie se naam nie bekend gemaak is nie. Die kliniese sielkundige is J Scholtz.

Merryll Vorster, forensiese psigiater, het in Mei vir die verdediging getuig en aan die hof gesê Pistorius ly aan ʼn algemene angsversteuring. Die staat was hierna suksesvol in sy aansoek om Pistorius vir sielkundige waarneming te stuur.

Algemene angsversteuring behels chroniese kommer, spanning en senuweeagtigheid. Gebaseer op die uitslag van die ondersoek kan Pistorius in ʼn psigiatriese hospitaal of gevangenis aangehou word kragtens die Wet op Geestesgesondheid. Hy kan ook as ʼn buite-pasiënt behandel word en vrygelaat word op die hof se voorwaardes, of onvoorwaardelik vrygelaat word.

Pistorius word van Steenkamp se moord beskuldig. Hy het haar deur ʼn geslote toiletdeur geskiet. Hy voer aan hy het haar vir ʼn inbreker aangesien. Die staat voer aan hy het haar tydens ʼn stryery geskiet. Hy staar ook aanklagte wat verband hou met die oortreding van die Vuurwapenwet in die gesig. Hy het onskuldig gepleit op alle aanklagte. –SAPA

Klik hier om die hooftrekke van die hofverrigtinge gratis op Maroela Media te volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.