Oscar Pistorius se ‘vryheidbedrieër’ in hof

oscar-pistorius

Oscar Pistorius op 21 Oktober 2014 in die Pretoriase hooggeregshof tydens vonnisverrigtinge Foto: Themba Hadebe/AP/Pool

Die 33-jarige man wat hom as ʼn beampte van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) voorgedoen het en R250 000 omkoopgeld van Oscar Pistorius geëis het om sy moordsaak “te vernietig” en vryheid te waarborg, verskyn Dinsdag in die gespesialiseerde kommersiële misdaadhof in Pretoria.

Maroela Media het vroeër berig die man is Vrydagmiddag naby die hooggeregshof in Pretoria deur die Valke in hegtenis geneem nadat hulle vir hom ʼn lokval gestel het.

Volgens brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die Valke, is die Valke Donderdagaand ingelig oor die “beampte”. Die verdagte het Pistorius glo genader en R250 000 geëis om die moordsaak teen hom te laat “vernietig”.

Die Valke het ʼn lokval gestel en die man is in hegtenis geneem nadat hy ʼn R40 000 “deposito” in ontvangs geneem het.

Annelise Burgess, woordvoerder van die Pistorius-familie, het bevestig dat Pistorius deur ʼn man genader is wat hom glo as ʼn NVG-beampte voorgedoen het. “Oscar het die Valke daarvan in kennis gestel, en die Valke het ʼn lokval opgestel,” het Burgess gesê. “Ons loof die Valke vir hul spoedige optrede en die manier waarop hulle die saak hanteer het.”

Die konstitusionele hof het vroeër vandeesmaand Pistorius se aansoek om verlof tot appèl teen sy skuldigbevinding afgekeur. Die konstitusionele hof was Pistorius se laaste poging om uit die tronk te bly ná hy Reeva Steenkamp in 2013 doodgeskiet het. Pistorius verskyn op 18 April in die Pretoriase hooggeregshof om gevonnis te word op aanklag van moord.

Lees alle vorige berigte oor Oscar Pistorius op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Martin ·

Al het hy die omkoopgeld betaal, hoe sou die saak net kon verdwyn? Dit is mos nou nie moontlik nie.

Vra maar net ·

Ek glo in gergtigheid maar hoekom Oscar se foto vir die berig te gebruik verstaan ek nie. Is dit om vir versaginde te pleit?

Ek wonder ·

Ek wonder maar net of dit nie so beplan is om hom die slagoffer te maak en sodoende om versagting te pleit nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.