Oscar Pistorius se vrylating: ‘Hy sal weer suksesvol kan wees’

Oscar Pistorius. Argiefforo: Siphiwe Sibeko/Reuters/Pool

Oscar Pistorius. Argiefforo: Siphiwe Sibeko/Reuters/Pool

Oscar Pistorius is Maandagaand onder korrektiewe toesig vrygelaat. Volgens ʼn kenner beteken dit egter nie dat die beroemde Paralimpiese atleet nou privaatheid gaan geniet nie. Inteendeel, hy sal met ʼn valkoog dopgehou word.

Pistorius is skuldig bevind aan strafbare manslag en tot vyf jaar tronkstraf gevonnis nadat hy sy meisie, Reeva Steenkamp, in die vroeë oggendure van Valentynsdag 2013 doodgeskiet het. Hy was ʼn jaar lank agter tralies. Sy parool sal tot 2019 voortduur.

Prof. Anni Hesselink van Unisa se Departement Kriminologie en Sekuriteitswetenskappe meen Pistorius sal in dié tydperk min privaatheid geniet. “Oscar is wêreldberoemd, hy word as ʼn ‘ster’ en baie bekende persoon beskou. Almal in Suid-Afrika weet van hom, amper ook so internasionaal. Daar is groot mediabelangstelling in hom; dit was al so voor die misdaad as gevolg van sy sportprofiel en die feit dat hy in hoë sosiale en sakekringe beweeg. Die media en die publiek gaan hom dophou en agtervolg en graag oor hom wil verslag lewer of stories versprei juis omdat hy ʼn hoë mediaprofiel het.”

Volgens Hesselink behoort Pistorius weer maklik in die samelewing aan te pas aangesien hy nie so lank agter tralies was nie. “Afgesien van die media en openbare heksejag gaan sy aanpassing nie so moeilik wees nie. Mense wat byvoorbeeld 12 – 20 jaar uitgedien het, sukkel om aan te pas omrede hulle vir jare uit die samelewing verwyder is en in isolasie gelewe het. Oscar het ʼn goeie ondersteuningstelsel wat familie en vriende betref en hy behoort baie goed weer in die samelewing aan te pas.”

Hesselink het gesê Pistorius sal weens sy vrylating onder korrektiewe toesig met ʼn valkoog dopgehou word. “Sou hy dit waag om te oortree of iets vreemds te doen, byvoorbeeld alkohol te gebruik, en iemand sien dit, gaan die publiek en media hom dadelik ‘aanmeld’, waar ʼn gewone persoon wat nie media-aandag geniet nie dalk beter daaraan toe sou wees.”

Hesselink meen Pistorius sal ná sy voltooiing van korrektiewe toesig suksesvol met sy lewe kan voortgaan. “Hy het baie skakelings met hoë, welvarende en gesiene persone in die samelewing. Hy kan dalk ʼn motiveringspreker word, ʼn boek publiseer oor sy lewe of die misdaad, of selfs ʼn film maak en heelwat geld hieruit verdien. Of hy kan ʼn goeie sportafrigter word. Hy was hoogs suksesvol voor die misdaad en sal weer so kan wees ná sy vonnisuitdiening.”

Lees meer hier oor wat korrektiewe toesig behels.

Klik hier vir alle vorige berigte oor Oscar Pistorius op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Winston ·

Hierdie voorval is lank nog nie afgehandel nie. Kom ons wag vir die appélhof uitspraak. Miskien gaan hy so suksesvol wees soos meeste misdadigers met rekords wat n vereiste is in SA. Die oordeel kom geen mens toe nie. Om n uitspraak deur n hof in despuut te plaas, is n ander saak.

BUSFARK VAN PLETSEN ·

Gelikig is hier twee tipe mense in ons land die wat posetief is wat kan vergewe en vergeet en saam staan en VOORENTOE GAAN wat Ozie ondersteeun . DAN die NEGETIVS wat niks positief kan uitstraal nie en kla SE MAAR NET .

Sonsie ·

Genugtig, ek wens julle kan so aangaan oor al die ander misdadigers !!! Wat van ander mense wat ook gemoor het, verkrag het en mense se lewens geskend het ? Maar julle is vining om vir Oscar te stenig omdat hy ‘n bekende is.. Daar is baie misdadigers daar buite wat nie eers tronkstraf kry of uitdien nie, en wat tussen ons op straat loop.. Gee bietjie die man ‘n kans !!

Willie Brits ·

Ons land is sooooo in sy kanon in. Moordenaars loop vry, anargiste word opgehemel… en die wetsgehoorsames word uitgemoor… net nog ‘n voorbeeld dat geregtigheid dood is.

Johan ·

Genade , maar die mense kan omtrent ‘n helse bohaai maak oor Oscar Pistorius se vrylating …..
Oscar MOES beslis langer in die tronk gebly het & sy straf vat wat hom MOES toekom ….. hy is BESLIS geensins spesiaal soos al die ander misdadigers nie …… once a criminal …. always one ….
Hoop hy gaan terug waar hy was & dat sy straf ook baie langer sal wees …..

Johan ·

Oscar MOES maar net gebly het waar hy was ….. in die tronk …… hy verdien NIE om uit te gekom het nie ….. Hy is geensins spesiaal nie ….

oscar aanhanger ·

OSCAR, ons wat by jou staan en sal staan, geniet elke oomblik!!!!!! KD het jou vry gelaat, nie die klomp lelike mense nie!!!!

Joa ·

Ag mense los tog nou vir Oscar uit. Julle weet nie waardeur hy gaan nie. Ek is ook deur my man geskiet ‘n klompie jare gelede maar hy het homself daarna geskiet en is toe dood. Vir my wat agter gebly het was dit ‘n verskriklike tyd vir ten minste 5 jaar. Ek was die een vir wie almal kwaad was en vir wie almal verantwoordelik gehou het vir sy dood. Wat ek deur gemaak het, die fisiese- en geestelike pyn, die bang wees vir alle mense, die lang tyd wat dit geneem het om te herstel, daaraan het die wat my beskuldig het, glad nie gedink nie. Dit was hel gewees. Tot vandag toe kry ek nogsteeds nagmerries oor daardie dag. So iets bly vir ewig by jou en so sal dit vir ewig by Oscar bly en by Reeva se ouers. Laat hulle met rus sodat hulle deur alles kan werk. As jy nie self deur so iets gegaan het nie, weet jy nie waardeur al die partye gaan nie.

Johan 2 ·

Ek wens net ons kon weet wat werklik daardie aan gebeur het. Net een mens weet en die hof het ons in die steek gelaat om dit by hom uit te vind! Verder kan ons nie veel sê nie want ons weet nie of hy hom vererg het en haar doodgeskiet het en of hy gedink het dis n inbreuker nie. Dalk sal hy eendag dit op sy sterfbed in iemand se oor vluister.

fransie rowles ·

Ja glo jy sal sukses vol wees, net jammer Riva kan nie nog n kans kry nie!!!

saRIE van heerden ·

Die Pistoriusgesin is net so keelvol vir al die media aandag wat hul kry as ons wat op ‘n daaglikse basis na hierdie stories moet luister en lees. Los die mense dat hul aangaan met hul lewe.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.