Oscar Pistorius-slotbetoë: Roux wys op verskil tussen geloofwaardigheid en betroubaarheid

Barry Roux Foto: Kevin Sutherland/Times Media Group/Pool (SAPA)

Barry Roux Foto: Kevin Sutherland/Times Media Group/Pool (SAPA)

Barry Roux, vir Oscar Pistorius, het Donderdagmiddag met sy slotbetoog in sy kliënt se moordverhoor begin en “belangrike punte” aan die hof beskryf in ʼn poging om die atleet se onskuld te bewys.

Roux het aan die Pretoriase hooggeregshof gesê daar is belangrike punte wat die staat ignoreer het terwyl hy sy saak teen Pistorius wou bewys. Hy het die staat se bewering dat sy kliënt slegs angstig was toe dit hom gepas het, uitgedaag. “ʼn Angstige persoon loop nie rond en wys sy weerloosheid nie,” het Roux gesê. Hy het gesê angs word veroorsaak deur ʼn spanningsvolle situasie.

Nel het aangevoer die verdediging het nie feitelike bewyse verskaf dat Pistorius in ʼn hoë stem skree wanneer hy onder spanning verkeer nie. Roux het na staatsgetuies se getuienis verwys oor gille wat die aand by Pistorius se huis gehoor is. Hy het gesê die staat het slegs die getuienis van twee paartjies oorweeg wat aanvoer dat hulle ʼn vrou se “bloedstollende gille” gehoor het. Ander bure het glo getuig hulle het ʼn man hoor skree.

Volgens Roux het die staat dit ook nie duidelik gemaak of hy glo dat die eerste geluide, wat die bure glo gehoor het, van Pistorius se krieketkolf af gekom het toe hy die deur wou oopbreek nie, en of dit geweerskote was nie.

Roux het ook gesê daar is ʼn verskil tussen die betroubaarheid en geloofwaardigheid van ʼn getuie. Hy sê getuies maak soms onbewustelik foute en glo hul eie weergawes.

Roux sal na verwagting Vrydag sy slotbetoog afhandel wanneer hofverrigtinge om 09:30 hervat.

Pistorius staan tereg op ʼn aanklag van moord nadat hy Reeva Steenkamp op 14 Februarie 2013 by sy huis in Pretoria-Oos doodgeskiet het. Hy voer aan hy het haar vir ʼn inbreker aangesien. Hy staan ook tereg op aanklagte wat verband hou met die oortreding van die Vuurwapenwet.

Klik hier om die hooftrekke van die hofverrigtinge gratis op Maroela Media te volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.