Oscar Pistorius soek nie geld terug nie

Oscar Pistorius saam met sy pa, Henke, broer Carl en suster Aimee in die agtergrond. Foto: Antoine de Ras/Independent Newspapers/ Pool

Oscar Pistorius saam met sy pa, Henke, broer Carl en suster Aimee in die agtergrond. Foto: Antoine de Ras/Independent Newspapers/ Pool

Die geld wat Oscar Pistorius aan sy vriendin Reeva Steenkamp se ouers betaal het, is onvoorwaardelik betaal en hy soek dit nie terug nie, het sy regsverteenwoordiger Woensdag in die hooggeregshof in Pretoria gesê.

“Die geld is onvoorwaardelik aan hulle gegee; daar is nie enige voorwaardes aan verbonde nie,” het adv. Barry Roux, namens Pistorius, gesê. “Mnr. Pistorius wil dit nie terughê nie.” Hy het gesê die geld is aan die Steenkamps betaal nadat hulle aangedui het dat hulle finansieel swaarkry na die dood van hulle dogter.

Roux het reageer op ʼn verklaring wat deur Barry en June Steenkamp se regsverteenwoordiger, Dup du Bruyn, aan die media gestuur is. Du Bruyn het daarin aangedui dat Pistorius sedert Maart verlede jaar tot einde September vanjaar R6 000 per maand aan die Steenkamps betaal het. Volgens die verklaring was die Steenkamps verbaas dat dié vertroulikheidsooreenkoms in die hof openbaar gemaak is sonder hulle medewete. Volgens Du Bruyn wou die Steenkamps die media inlig oor die ooreenkoms, maar Pistorius het versoek dat dit vertroulik gehou word.

Roux het gesê Pistorius het sy motor vir R375 000 verkoop en wou ook dié geld vir die Steenkamps gee. Volgens die atleet is daar geld in ʼn trustrekening inbetaal nadat die Steenkamps aangedui het hulle soek nie sy geld nie. Hy het beklemtoon dat Pistorius ook nie dié geld wil terugkry nie.

Staatsaanklaer Gerrie Nel het Dinsdag aan die hof gesê June Steenkamp wou nie die R375 000 hê nie, aangesien dit “bloedgeld” is.
Die hofverrigtinge is intussen verdaag nadat Roux aangedui het dat hy geen verdere getuies het nie. Nel het aangedui dat hy drie of vier getuies sal roep. Die saak duur voort.

Klik hier om die hooftrekke van die hofverrigtinge gratis op Maroela Media te volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Leeutjie ·

Ek kry hierdie jongman ontsettend jammer! Jy kan nie ‘n lewe terugkoop met geld nie maar hy het tenminste in hierdie geval die regte ding gedoen, nieteenstaande die feit dat Me Steenkamp hom as die duiwel geklassifiseer het waarvoor sy ook vergifnis moet vra! En ja, die geldelike bydrae het nou eers aan die lig gekom. Ek hoop regtig die mensdom vind dit in hul harte om hom te vergewe. Hy gaan ‘n stryd in homself he wat niemand hom mee kan help nie. Net God kan en aan ons kom die wraak nie toe nie!

Anne ·

Mooi gese Leeutjie. Ek dink daar is dae wat Oscar wens hy was eerder saam met haar dood, as hy al die haat en verwyte hoor en lees

EMK ·

Ja tog, dis nou net weer aandag soek van die klomp. Hulle het dit darem gou destyds aanvaar. As hulle dit nie wil hê skenk dit vir ‘n goeie doel. Hy het dit met die beste bedoelings gegee.

Dave ·

Leeutjie, onthou jy van Dina Rodrigues wat die baba Jordan Leigh Norton op ses maande ouderdom laat vermoor het? Swart moordenaars gestuur het om die onskuldige kindjie te vermoor. Sy gaan dalk een van die dae op parool vrygelaat word. Sy is tot lewenslange tronkstraf gevonnis maar dit wat lewenslank genoem word is bloot ongeveer ‘n dekade of bietjie meer of selfs minder . Het jy toe ook stories in tydskrifte en koerante geskryf dat ‘die wraak nie die mens toekom nie’? Besef jy hoeveel mense word per dag in Suid Afrika vermoor? Lees jy die koerantverslae en skryf jy dan ook dat die ‘wraak nie die mens s’n is nie’? Of het dit die mens destyds toegekom? Ek sal nie die moeite doen om meer voorbeelde aan te haal nie. En moet nie vir my sê dat dit by sommige gevalle anders is as by ander nie. Jý het gesê dat die mens nie wraak behoort te neem nie. So, moet hy op die skouer gepat word en vrygelaat word omdat die mens nie moet wraak neem nie? Dit is deur mense met jòu tipe houding wat die hoogste straf weggeneem is in Suid Afrika. Indien straf nie die mens toekom nie, waarom is daar enigsins howe?

Johan ·

Hierdie storie begin nou stink. Mens kry so die idee die Steenkamps was maar te gereed om die geld te vat omdat hulle dit nodig gehad het, maar noudat hulle nie hulle verwagte uitslag in die hof gekry het nie, en die geld storie dalk iets positiefs oor sy karakter se, wil hulle dit ewe skielik nie he nie. Dis erger as ‘n sepie – die media moet nie toegelaat word om hofsake lewendig uit te saai nie.

jjobson ·

Almal het GELD nodig, selfs die pensioenaris kan nie sonder staatsgeld klaar kom nie,so i ekstra sal doen al is daar van jou bloed weggeneem.

Hannelie ·

Ek stem 100% saam met jou Leeutjie. Ons mensdom is te geneig om te oordeel, en ons is nie God nie. Ek kry al die partye bitter jammer. Maak nie saak watter kant toe die saak gaan nie, beide kante gaan seerkry. Sterkte.

EMK ·

Leeutjie, ALexander Pope het geskryf “To err is human; to forgive, divine” – dit is iets wat mense soos Dave en ander nog moet leer. Ja, daar word baie moorde elke dag in SA gepleeg en ja, soms kom mense dalk vroeg uit op parool – dis dalk hoe ons daaroor voel maar as iemand ‘n tweede kans kan kry hoekom nie? Ek kan ook hope gevalle aanhaal waar mense wel 2e kanse gekry het en wonderlike dinge in hul lewe verrig het. Dis nie vir ons om te vra, nog minder om te oordeel, hoe moeilik ookal dit is.

Leeutjie ·

EMK, ons praat dieselfde taal. Om iemand te vergewe is om self vry te kom. Die vuurspoeg, wrokkigheid en aanvalle raak rerig nou te veel. Ek dink ons is aan die gelukkige kant om aan die Gees gehoorsaam te wees en as Sy wenners kop omhoog te hou!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.