Oscar Pistorius: Uitspraak in appèlverhoor verwag

Regter Thokozile Masipa in die Pretoriase hooggeregshof op 9 Desember 2014 tydens die staat se aansoek om verlof tot appèl teen Oscar Pistorius se skuldigbevinding en vonnis Foto: Kim Ludbrook/EPA/Pool

Regter Thokozile Masipa in die Pretoriase hooggeregshof op 9 Desember 2014 tydens die staat se aansoek om verlof tot appèl teen Oscar Pistorius se skuldigbevinding en vonnis Foto: Kim Ludbrook/EPA/Pool

Regter Thokozile Masipa sal na verwagting Woensdag in die Pretoriase hooggeregshof haar uitspraak lewer in die staat se aansoek om verlof tot appèl teen Oscar Pistorius se skuldigbevinding en vonnis.

Masipa het Dinsdag die staat en verdediging bedank en die saak tot vanoggend om 09:30 uitgestel. “Ek wil hieroor dink,” het sy gesê.

Barry Roux SC vir Pistorius het Dinsdag aan die hof gesê die reg is korrek toegepas in die skuldigbevinding en vonnis van die Paralimpiese atleet. Staatsaanklaer Gerrie Nel het aangevoer die vonnis is “skokkend onbehoorlik” en dat die hof te veel genade aan Pistorius betoon het wat moes kon voorsien dat hy onwettig die persoon agter die deur gaan doodskiet.

Masipa het Pistorius op 21 Oktober tot vyf jaar tronkstraf gevonnis nadat hy skuldig bevind is aan strafbare manslag van Reeva Steenkamp. Hy het haar op 14 Februarie 2013 deur ʼn geslote toiletdeur doodgeskiet, glo omdat hy haar vir ʼn inbreker aangesien het.

Die staat het sy aansoek tot verlof om appèl verlede maand ingedien en versoek ʼn groter skuldigbevinding en swaarder vonnis.

Pistorius is ʼn verdere drie jaar tronkstraf opgelê wat opgeskort is vir vyf jaar nadat hy in Januarie 2013 ʼn vuurwapen in ʼn restaurant in Johannesburg laat afgaan het.

Klik hier om alle vorige berigte oor Oscar Pistorius op Maroela Media te lees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Otto Skorzeny ·

“Shockingly inappropriate” word eerder vertaal as “skokkend onvanpas”.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.