Oscar Pistorius-vonnisoplegging: ‘Hy is ʼn gebroke man’

Oscar Pistorius Maandagoggend in die hooggeregshof in Pretoria waar sy vonnisoplegging begin het. Foto: Werner Beukes/SAPA/Pool

Oscar Pistorius Maandagoggend in die hooggeregshof in Pretoria waar sy vonnisoplegging begin het. Foto: Werner Beukes/SAPA/Pool

Oscar Pistorius is ʼn gebroke man wat alles verloor het en dis onwaarskynlik dat hy ooit sal herstel van die skietdood van sy vriendin Reeva Steenkamp, het die hooggeregshof in Pretoria Maandag gehoor.

“Op ʼn emosionele vlak is sy persepsie oor homself en sy eie waarde beskadig. Dit is onwaarskynlik dat hy sal herstel van die skietvoorval,” het Löre Hartzenberg, Pistorius se sielkundige, getuig. Hartzenberg het gesê Pistorius het sy loopbaan, sy liefdevolle verhouding met Steenkamp en van sy vriende verloor.

Volgens Hartzenberg voel Pistorius afgesonder na die skietery en is dit in ʼn tyd wanneer hy die ondersteuning van sy vriende die meeste benodig. Pistorius is in sommige gevalle verneder en dit het ʼn diepgaande uitwerking op sy identiteit gehad. “Mnr. Pistorius het homself as heeltemal waardeloos ervaar,” het Hartzenberg getuig.

Sy het aan die hof gesê dat Pistorius nie sal kan “vlug” van die skietery nadat hy met post-traumatiese stresversteuring gediagnoseer is nie. “Die terugflitse en herhaling van die skietery sal geestesbeelde wees wat hy saam met hom moet dra. Dit sal deel wees van sy lewe tot genesing plaasgevind het.”

Hartzenberg het Pistorius vir die eerste keer op 23 Februarie 2013 ontmoet en het twee dae later ʼn eerste sessie met hom gehad. Volgens haar het Pistorius nooit sy humeur verloor nie, selfs al is hy uitgelok tydens kruisondervraging deur die staat nie. Sy het gesê Pistorius is goedgemanierd en respekvol selfs al is hy geïrriteerd of gefrustreerd. “Ek kan bevestig hy het berou. Die genesingsproses word in die gedrang gebring deur onwaarhede.”

Staatsaanklaer Gerrie Nel het Hartzenberg gevra of sy dink die Steenkamp-familie is ook “gebroke”. “Ek het geen twyfel dat die Steenkamp-familie deur geweldige pyn gaan nie.” Nel het hierop geantwoord dat hy bewyse voor die hof sal plaas dat mnr. Steenkamp ʼn beroerte gehad het. Volgens Nel het June Steenkamp, Reeva se ma, ook met tye op die grond inmekaargesak en gehuil.

Klik hier om die hooftrekke van die hofverrigtinge gratis op Maroela Media te volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Dan ·

So hy het glo “alles verloor”. Sluit dit sy geld in? Reeva het haar lewe verloor.

Theresa ·

Na uitspraak – Sal daar ‘n vinnige herstel wees. Reeva en haar familie sal NOOIT kan herstel nie.

Monica ·

Oscar huil … Dewani huil … so pleeg moord en draai die traankliere oop en jy is vergewe!

Stuiwer ·

Oscar sou minder stress gehad het as hy van die begin af oop kaarte gespeel het. Di’s sy gewete wat hom so ry. In ‘n mate ‘n goeie teken, maar ek is ook maar van mening dat hy sommer spoedig sal herstel, tensy hy die “trauma-beeld” wil voortsit.

anet ·

Oscar is ‘n smart Vraat !!! Hy het Reeva se ouers se harte gebreek, Reeva was hulle enigste dogter.en sy is nie meer hier om haar self te verdedig nie. Hy ‘n gebroke man???? nee wat dit is net aansit sodat die wereld moet se siestog arme Oscar.

Ek hoop regter Masipa is oordeelkundig met haar vonnis en laat geregtigheid geskied

Nonnie ·

Ag shame, net jammer jy het nie daaraan gedink toe jy haar lewe sonder slag of stoot geneem het nie. Hoop jy kry maksimum vonnis!!

Leeutjie ·

Jou uitlating van hoop dat hy selfmoord pleeg is bizarre Andries.

Ina Marais ·

Shoe julle wat Oscar so sleg maak, die Here sê vir ons almal ons moet vergewe en vergeet, en bowenal wat het Reeva in sy bed gesoek? Hulle was nie getroud nie……. ek sê maar net hulle het beide skuld hieraan definitief nie net Oscar nie laat die een wat sonder sonde is dan maar die eerste klip optel om te gooi!

carel ·

Ina – as ons nou moet uit die bybel praat se vir ons wat beteken “n oog vir n oog” – ek is seker dit staan ook in die bybel?

Die outjie het iemand vermoor – ons wapen wet is baie duidelik – Oscar het n toets hieroor geskryf om sy vuurwapen lisensie te kry – en reg geandwoord – jy mag nie na iemand skiet as so iemand jou nie met n vuurwapen bedreig nie wat nog as jy nie die ander persoon kan sien nie?

Dink nou bietjie – hoekom het Reeva haarself in die toilet toegesluit? Dit is mos nie normaal om jouself in n toilet toe te sluit nie? Nee mev dit vat 2 om te tango en die feit dat Reeva in sy bed was is nie rede vir haar om haar lewe te verloor nie – jy maak stellings oor goed wat jy nie verstaan nie.

Oscar moet boet vir wat hy gedoen het – lees die wapen wet en verduidelik hoe hy onskuldig bevind is op die besit van .38 amo waarvoor hy nie n lisensie het nie – die wet is baie duidelik hieroor – dan sal u sien hoe n dwase flop die regter begaan het – iets is verkeerd – kyk op die internet u sal die wapen wet daar kry – lees dit en probeer dan verstaan wat hier gebeur het….?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.