Oscar Pistorius-vonnisoplegging: Slotargumente aangehoor

Oscar Pistorius op 19 Maart 2014 in die hof Foto: Leon Sadiki/Citypress/Pool (SAPA)

Oscar Pistorius op 19 Maart 2014 in die hof Foto: Leon Sadiki/Citypress/Pool (SAPA)

Slotargumente in die vonnisverhoor van die Paralimpiese atleet Oscar Pistorius, word vandag in die hooggeregshof in Pretoria aangehoor.

Die staat het vandeesweek tydens die vonnisverrigtinge twee getuies geroep, Kim Martin, die slagoffer Reeva Steenkamp se niggie, en waarnemende nasionale kommissaris van korrektiewe dienste, Zach Modise.

Die verdediging het vier getuies geroep, Pistorius se sielkundige Lore Hartzenberg, sy bestuurder Petrus van Zyl, Joel Maringa, ʼn maatskaplike werker van die departement van korrektiewe dienste, en Annette Vergeer, ʼn maatskaplike werker en proefbeampte.

Regter Thokozile Masipa het Pistorius op 12 September skuldig bevind aan strafbare manslag op die model en regstudent Steenkamp, maar onskuldig aan haar moord. Pistorius het aangevoer hy het haar vir ʼn inbreker aangesien toe hy op 14 Februarie 2013 vier skote deur ʼn geslote toiletdeur in sy huis geskiet het.

Hy is ook skuldig bevind dat hy in Januarie 2013 sy vriend se vuurwapen in die Tasha’s restaurant in Johannesburg laat afgaan het. Hy is onskuldig bevind op twee ander aanklagte wat met die Vuurwapenwet verband hou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.