Oscar-saak: Toneel was skokkend, sê sekuriteitswag

Oscar bedek sy oë tydens Baba se getuienis. Foto: SAPA

Oscar bedek sy oë tydens Baba se getuienis. Foto: SAPA

Die hoofsekuriteitswag van die Silwer Woods-landgoed wat aan diens was toe Reeva Steenkamp doodgeskiet is, het Vrydag getuig hy was geskok toe hy gesien het hoe Oscar Pistorius Steenkamp se liggaam by sy huis se trappe af dra. Pieter Baba was een van die getuies wat Vrydag in die Pretoriase hooggeregshof getuig het.

Baba het gesê hy was geskok om die toneel te sien, aangesien hy Pistorius gebel het nadat inwoners van die landgoed die sekuriteit meegedeel het dat hulle geweerskote in Pistorius se huis gehoor het. Baba het Pistorius gebel, waarna Pistorius vir hom gesê het “Everything is fine,” al het hy Pistorius oor die foon hoor huil.

“Hy het vir my gesê alles is ‘fine’, maar ek was baie geskok toe ek later by sy huis opdaag en sien hy dra Reeva se liggaam. Ek kon vir ʼn paar oomblikke nie dink nie,” het Baba gesê.

“Ek het na Pistorius gestaar. Ek was vreesbevange.”

Terwyl Baba sy weergawe van die voorval gegee het, het Pistorius vooroor geleun en sy oë met sy hande bedek terwyl hy vermoedelik gehuil het.

Adv. Barry Roux het tydens Baba se kruisverhoor vir hom gevra of hy seker was oor wat hy dink Pistorius vir hom oor die foon gesê het.

“Is jy seker jy het ‘everything is fine’ gehoor?” wou Roux weet. Roux wou weet of Pistorius nie dalk vir hom oor die foon gesê het “he is okay” of “everything is okay” nie. Roux het verder gevra of Pistorius nie dalk “okay” in stede van “fine” gesê het nie.

ʼn Moedelose Baba het gesug, sy kop laat sak en stadig herhaal: “U edele, die presiese woorde wat Oscar gesê het, is ‘security, everything is fine’”. Roux het daarna gesê hy sal die saak Maandag verder hanteer.

Die hof het daarna verdaag. Hofverrigtinge hervat Maandag om 09:30.

Volg alles oor die Oscar Pistorius-verhoor hier op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Peter Says ·

Wonderlik wat n onuitputbare bron van instruksies kan vermag, gaan reg en geregtigheid regtig hier geskied ???

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.