Oscar staan appèl teë

Oscar Pistorius in die hof (Julie 2014)  Foto: Daniel Born/Pool, SAPA

Oscar Pistorius in die hof (Julie 2014) Foto: Daniel Born/Pool, SAPA

Die veroordeelde Paralimpiese atleet Oscar Pistorius se prokureurs sal die hof se besluit om die staat toe te laat om te appelleer teen sy skuldigbevinding, teëstaan.

“Ons bevestig dat die verdedigingspan ʼn aansoek gebring het vir aansoek om verlof tot appèl teen die besluit dat die saak na die hoogste hof van appèl verwys is,” het Anneliese Burgess, woordvoerder van die familie, in ʼn verklaring gesê. “Ons sal aanvoer dat feite en nie die reg nie, ter sprake is.”

Die aansoek om verlof tot appèl sal op 13 Maart aangehoor word. Die uitsaaier eNCA het berig dat dit in die Johannesburgse hooggeregshof aangehoor sal word.

Pistorius se familie het op 10 Desember gesê hulle sal volstaan by die besluit in die Pretoriase hooggeregshof dat die staat verlof tot appèl toegestaan is teen die atleet se skuldigbevinding aan strafbare manslag. “Ons neem kennis van die bevinding en volstaan met die uitspraak,” het sy oom, Arnold Pistorius, in daardie stadium gesê.

Regter Thokozile Masipa het die staat se aansoek om verlof tot appèl toegestaan, maar die aansoek om teen sy vonnis te appelleer, verwerp.

Die staat wil hê dat Pistorius aan die ernstiger aanklag van moord skuldig bevind moet word.

Die datum wanneer die saak in die hoogste hof van appèl in Bloemfontein aangehoor sal word, is nog nie bekend gemaak nie.

Masipa het Pistorius op 21 Oktober skuldig bevind aan strafbare manslag en hom tot vyf jaar tronkstraf gevonnis nadat hy Reeva Steenkamp op 14 Februarie 2013 doodgeskiet het.

Lees alle vorige berigte oor Oscar Pistorius op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.