Oscar: Verdediging mag nie met staatsielkundige praat nie

Oscar Pistorius op 7 Julie 2014 in die Pretoriase hooggeregshof Foto: Ihsaan Haffejee/Pool/SAPA

Oscar Pistorius op 7 Julie 2014 in die Pretoriase hooggeregshof Foto: Ihsaan Haffejee/Pool/SAPA

Regter Thokozile Masipa het Maandag beslis dat die moordbeskuldigde Oscar Pistorius se regspan nie die staat se sielkundige, Carla Kotze, mag konsulteer nie.

Barry Roux SC, vir Pistorius, het aangedui hy wil haar graag konsulteer voordat die verdediging ‘n besluit maak oor ‘n laaste getuie. Staatsaanklaer Gerrie Nel het beswaar aangeteken en gesê die verdedigingspan kan sy eie psigiater, dr. Leon Fine, konsulteer.

Kotze en Fine was deel van ‘n paneel van drie psigiaters en een kliniese sielkundige wat die atleet vir 30 dae lank by Weskoppies Psigiatriese Hospitaal ondersoek het ná ‘n hofbevel. Masipa het gesê dit is nie in die belang van geregtigheid dat die verdediging met Kotze konsulteer nie.

Roux het aangedui die verdediging sal na verwagting Dinsdag sy saak afsluit.

Nel het vroeër sy kruisondervraging van Wayne Derman, ʼn mediese dokter en spesialis in sport en menslike bewegingskunde, afgesluit.

Intussen het Nathi Mncube, woordvoerder vir die Nasionale Vervolgingsgesag, gesê die NVG het nie die beeldmateriaal gesien wat Sondagaand op Channel 7 in Australië uitgesaai is nie. Hy het gesê die staatsaanklaerspan het ook nie die beeldmateriaal gesien nie.

Die program, Sunday Night, het glo onwettig beeldmateriaal bekom wat die atleet se verdedigingspan tydens die voorbereiding vir sy hofsaak saamgestel het. Pistorius beeld in die video die gebeure uit van die aand wat hy Reeva Steenkamp doodgeskiet het. Klik hier vir volledige inligting oor die inhoud van die video.

Pistorius word van moord beskuldig nadat hy Steenkamp op 14 Februarie 2013 deur ‘n geslote toiletdeur in sy huis in Pretoria-Oos doodgeskiet het. Hy voer aan hy het haar vir ‘n inbreker aangesien. Hy staar ook aanklagte wat verband hou met die oortreding van die Vuurwapenwet in die gesig. Hy het onskuldig gepleit op alle aanklagte.

Die saak duur Dinsdagoggend voort. -SAPA

Klik hier om die hooftrekke van die hofverrigtinge gratis op Maroela Media te volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.