Oscar was “emosioneel, baie hartseer”

Oscar Pistorius op 6 Mei 2014 in die hof Foto:  Mike Hutchings/Reuters/Pool (SAPA)

Oscar Pistorius op 6 Mei 2014 in die hof Foto: Mike Hutchings/Reuters/Pool (SAPA)

ʼn Maatskaplike werker het Donderdag aan die Pretoriase hooggeregshof gesê die moordbeskuldigde Oscar Pistorius was emosioneel en baie hartseer nadat hy Reeva Steenkamp doodgeskiet het.

“Vandat ek hom die eerste keer gesien het, het ek ʼn hartgebroke man gesien wat emosioneel swaarkry,” het Yvette van Schalkwyk gesê. “Hy het diepe berou en is baie jammer oor die verlies.”

Van Schalkwyk sê mediaberigte dat Pistorius nie opreg is in sy verskoning nie en dat sy trane en emosie vervals word, het haar ontstel.

Staatsaanklaer Gerrie Nel het beswaar aangeteken teen Van Schalkwyk se getuienis. Hy sê haar getuienis is irrelevant, maar regter Thokozile Masipa het sy beswaar verwerp.

Van Schalkwyk sê sy het Pistorius vir die eerste keer op 15 Februarie in die polisieselle ontmoet. Dit is een dag nadat die atleet Steenkamp in sy huis in Pretoria-Oos doodgeskiet het.

Sy het onder kruisverhoor aan Nel gesê sy het nog nie vantevore ander “familiemoordsake” hanteer nie.

Prof. Christina Lundgren, hoof van narkotika by Wits-Universiteit, het aan die hof gesê dit is baie moeilik om die tyd van ʼn afgestorwe persoon se laaste ete te bepaal gebaseer op maaglediging en die tyd van afsterwe. Sy sê sy kan nie die staat se bewering staaf dat Steenkamp ongeveer twee ure voor haar dood geëet het nie.

Lundgren het die hof na studies verwys wat haar getuienis ondersteun. Volgens Lundgren is dit nie bewys dat ʼn maag ná vier ure leeg is nie. Sy het gesê daar is ʼn konsensus dat minstens ses ure moet verloop. “Ongeveer 10% van ʼn laevetmaaltyd sal nog ná vier ure in die maag oorbly,” het sy gesê.

Sy het ook daarop gewys dat faktore soos slaap, oefening, angs en pyn, rook en sekere medikasie maaglediging kan vertraag.

Prof. Gert Saayman, wat die nadoodse ondersoek op Steenkamp gedoen het, het gesê die model se blaas sou leeg gewees het indien sy tussen 30 minute en ʼn uur voor haar dood toilet toe was. Hy het ook gesê sy het moontlik haar laaste maaltyd twee ure voor haar dood gehad.

Pistorius kon nie verduidelik waarom daar steeds kos in Steenkamp se maag was nie. Nel het voorgestel dat die paartjie twee ure voor haar dood nog geëet het, maar die atleet hou vol hulle het omstreeks 19:00 die vorige aand geëet en kort daarna bed toe gegaan. Steenkamp is omstreeks 03:00 doodgeskiet.

Pistorius voer aan hy het haar vir ʼn inbreker aangesien. Hy word van moord aangekla. Hy staar ook aanklagte wat verband hou met die oortreding van die Vuurwapenwet in die gesig. Hy het onskuldig gepleit op alle aanklagte. –SAPA

Klik hier om die hooftrekke van die hofverrigtinge gratis op Maroela Media te volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

ekke ·

Die saak het die gawe om mens in alle rigtings te laat dink. Die regter het ‘n besluit om te neem…net sy gaan weet hoe en waar.

jakes ·

Oscar sal baie lekker snags slaap as hy net met waarheid uitkom- erken en vra om genade, straf vat vir sy dade. Kan nie net “weg hardloop”. Staan pappie en praat- nie tjank soos ‘n brak. Waarheid asseblief.

Jurie Gildenhuys ·

Wat van die waterkloof vier – het hulle ook nie genoeg straf al gehad nie – Oscar se straf het nog nie eers begin nie! – ASB hy het nou nog nie erken dat hy n fout gemaak het nie

Hy huil seker nie meer omdat hy dink hy is los??

Peter Says ·

Elders het ek gese…Geld wat stom is, maak maar julle afleidings…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.