O’Sullivan en prokureur terug in hof

Paul O’Sullivan en sy assistent, Sarah-Jane Trent, in Februarie by die hof. Foto: ANA

Paul O’Sullivan, ʼn private ondersoeker, sy assistent-prokureur, Sarah-Jane Trent, en twee werknemers van die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) het Vrydag weer in die Pretoria-landdroshof verskyn.

Mandla Mahlangu, Temane Binang, O’Sullivan en Trent staan tereg op aanklagte van bedrog, sameswering om die Opod-wet te oortree, afpersing en korrupsie. Die saak is tot 6 Oktober uitgestel vir finalisering van die ondersoek.

Die aanklagte hou verband met beweerde wangedrag tydens ʼn ondersoek van O’Sullivan en Opod oor bewerings van korrupsie teen die voormalige waarnemende nasionale polisiekommissaris, lt.genl. Khomotso Phahlane.

O’Sullivan word daarvan beskuldig dat hy homself as ʼn Opod-beampte voorgedoen het om toegang te kry tot vertroulike lêers wat inligting oor Phahlane se huis bevat. Mahlangu en Binang lei die ondersoek oor die aanklagte van korrupsie en geldwassery teen Phahlane.

Robert McBride, hoof van Opod, het onlangs ʼn dringende hofaansoek in die verband gebring. Hy versoek die hof om te verklaar dat dit ongrondwetlik is vir enige SAPD-lid om deel te wees van ʼn ondersoek na ʼn lid van Opod waar die SAPD-lid ʼn persoonlike belang by die ondersoek het.

McBride het al talle kere voorheen gekla dat Phahlane by ondersoeke inmeng. Hy het Phahlane ook daarvan beskuldig dat hy ʼn eenheid van Noordwes saamgestel het om Opod-beamptes, wat aanklagte teen hom ondersoek, te teister.

Fikile Mbalula, minister van polisie, het vroeër vandeesmaand tydens ʼn mediakonferensie aangekondig dat Phahlane uit sy posisie as waarnemende nasionale polisiehoof verwyder is. Hy is tans geskors terwyl die Opod-saak voortduur. Phahlane het gesê hy respekteer die minister se besluit en sal ter wille van die beste belange van die polisie en die land nie teen sy skorsing kapsie maak nie.

Die presidensie het Phahlane met lt.genl. Lesetja Mothiba vervang was as nasionale polisiekommissaris sal waarneem totdat ʼn permanente hoof aangestel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

jaco ·

die man het n Ierse paspoort al vir jare, maar hy karring steeds aan in SA. Hy kon mos al LANKAL, sommer kort na 1994, reeds Ierland toe verhuis het. Ierland is deel van die Europese Unie. Hy hoef dus nie eens noodwendig soontoe te gaan nie. Daar is 25 ander lande om van te kies. Ek verstaan nie dat mense met sulke wonderlike voorregte nog steeds in SA aankarring nie. Ek smag na wegkom uit SA, maar ek kan nie. Hierdie man kon lankal baie maklik weggekom het, maar hy is steeds hier. voorwaar vreemd.

Jacobus ·

Paul staan op vir die saak wat belangriker vir hom is as om weg te kom. Ek hoop en vertrou die aanklagte is val maar glo darm so! Dankie vir Paul en vir sulke mense wat onbaatsugtig staan vir die saak teen korrupsie, ons het julle broodnodig in ‘n tyd van wetteloosheid.

wraggies ·

Ek haal my hoed af vir hom, soos genoem is hoef hy nie sy lewe in gevaar te stel vir geregtigheid in SA nie, hy doen dit vrywllig, ons het baie meer van sy soort nodig om hierdie korrupte amptenare vas te vat.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.