O’Sullivan se borgtogvoorwaardes verslap

Paul O'Sullivan (Foto: Who's Who)

Paul O’Sullivan (Foto: Who’s Who)

Die borgtogvoorwaardes vir die privaat speurder Paul O’Sullivan, wat tereg staan op aanklag dat hy die Wet op Suid-Afrikaanse Burgerskap oortree het, is Woensdag in die Kempton Parkse landdroshof verslap.

Hy sal nou na Engeland mag reis.

Adv. Barry Roux, wat vroeër Oscar Pistorius se moordverhoor in die Pretoriase hooggeregshof bygewoon het, het versoek dat sy kliënt se borgtogvoorwaardes verslap moet word, omdat hy sy dogter se 10de verjaarsdag in Londen wil bywoon.

Staatsaanklaer Jabulani Mlotshwa het die aansoek teengestaan en gesê daar is ander klagtes teen O’Sullivan. “Ek verstaan hulle argument, maar dit gaan nie net oor O’Sullivan nie, maar die belang van geregtigheid en die publiek.”

Mlotshwa het aan die hof gesê hy sou verkies dat die landdros, wat die borgtogvoorwaardes bepaal het, die een moet wees wat besluit of dit verslap word of nie.

Kapt. Bonisile Mkupa, die ondersoekbeampte wat ook teen die verslapping van die borgtogvoorwaardes getuig het, het gesê die saak duur voort en daar is talle bewyse wat daarop dui dat O’Sullivan moontlik sy hofsaak gaan probeer vryspring. Mkupa het gesê O’Sullivan het in verskeie e-posse, wat hy aan verskillende persone gestuur het, aangedui dat hy van voorneme is om in ballingskap te gaan: “Ek verstaan dat hy in ballingskap wil gaan en hy staan tereg op talle aanklagte.” Hy het gesê die aanklagte hou verband met bedrog, uitbuiting en vervalsing.

Ao Jacobus Vlok het getuig hy ondersoek drie sake wat met O’Sullivan verband hou.

Landdros Wynand Nel het egter gesê hy glo nie die privaat speurder is ʼn vlugrisiko nie. “So ver as wat ek weet, het hy nog elke hofverrigting bygewoon, en dit lyk of hy wil terugkeer na die land. Ek beskou hom nie as ʼn vlugrisiko nie,” het Nel gesê. “Elke beskuldigde is onskuldig tot hy skuldig verklaar word deur die staat.”

Nel het O’Sullivan toestemming gegee om die land te verlaat.

Maroela Media het vroeër berig Roux het gesê sy kliënt is by die OR Tambo-lughawe in hegtenis geneem toe hy op pad was na die Verenigde Koninkryk om ʼn mediakonferensie te hou om korrupsie in Suid-Afrika bloot te lê. Hy het na bewering drie paspoorte in sy besit gehad en sou saam met sy gesin na Engeland vlieg.

Die saak is tot 2 Augustus uitgestel.

O’Sullivan het meer as 37 jaar ervaring in wetstoepassing en word as een van die wêreld se beste veiligheidskenners beskou. Hy spesialiseer in velde om terrorisme, spioenasie en dwelm-, wapen- en mensehandel teen te staan, asook plaaslike wetstoepassing wat alle aspekte van gesindikeerde misdaad, bedrog, roof en moord insluit. Hy het op verskeie hoëprofielsake gewerk wat tot die suksesvolle vervolging gelei het van Jackie Selebi, voormalige hoof van Interpol en die SAPD, en die Tsjeggiese voortvlugtige, Radovan Krejcir.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Edward ·

Regering het besluit dit is payback time. Hy het genoeg van hulle comrades ontbloot.

Piet Snot ·

Daai laaste paragraaf vd berig verduidelik hoekom die Staat hom agter tralies wil sien.
Hy’s meer werd as baie polisiemanne saam.

KarooKlong ·

Maroela herstel hierdie sin:
“Elke beskuldigde is onskuldig tot hy onskuldig verklaar word deur die staat”

Johann Marx ·

Hy’s hierdie “een van die wêreld se beste veiligheidskenners” met 37 jaar ondervinding, ken die wet uit sy kop uit…….behalwe die wet op Suid Afrikaanse Burgerskap?

Wat-ek-lees ·

Daardie sin moet seker lees “Onskuldig tot hy skuldig verklaar word”.
Paragraaf twee is ‘reig’ eerder ‘reis’.

Jan maak n Plan ·

Lyk vir my die regerong is lekker kwwad vir die mnr O’Sullivan. Ek hoop hy roer hulle goed.

Hendrik ·

Dit sal maklik wees vir hom om aansoek vir asiel te doen. Hy sal maklik net in die buiteland bly. Nog ‘n ontnugterde liberalis. Die demokrasie werk nie meer so goed vir hulle nie.

Jan maak n Plan ·

Kan ons nie Tulli Madonsela se pos vir O’Sullivan gee nie???????

Debbie Hendriks ·

Kan jul asb die berig regstel – reig moet reis wees (paragraaf ). Ook is ek seker die stelling : onskuldig tot jy onskuldig verklaar is, is inkorrek

Landi Slatter ·

Dagsê Debbie en KarooKlong

Dankie vir julle terugvoer. Ons vra om verskoning vir die oorsig. Ons het die berig gewysig.

Groetnis
Landi nms Maroela Media

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.