OTM-aanvallers brand op omstanders los

(Argieffoto: Marcus Trapp/pixabay)

ʼn Man wat in die vroeë oggendure saam met twee ander mans by ʼn vulstasie in Bloemfontein stilgehou het om te rus, is in die arm gewond nadat ʼn bende gewapende aanvallers op hulle losgebrand het.

Lt.kol. Thabo Covane, polisiewoordvoerder, sê die mans was van Gauteng na die Oos-Kaap op pad toe hulle by die Engen-vulstasie in OR Tambostraat in Bloemfontein stilgehou het. Hulle het glo ʼn rukkie geslaap toe hulle omstreeks 01:00 deur ʼn klop aan die motorvenster wakker gemaak is.

ʼn Man het ʼn vuurwapen op hulle gerig en toe begin losbrand. ʼn 34-jarige insittende is in die linkerarm getref.

Die slagoffers het ʼn groep van sowat 11 mans buite hul motor gesien en weggejaag terwyl nog skote geklap het. Hulle het ook ʼn harde slag gehoor.

Die werkers by die vulstasie het dieselfde slag uit hul ruskamer gehoor. Een van hulle het ʼn paniekknoppie gedruk. Veiligheidsbeamptes was kort daarna op die toneel, waarna die verdagtes te voet gevlug het.

Covane sê die harde slag was die ontploffing toe die aanvallers ʼn kitsbank op die perseel oopgeblaas het.

“Geen geld is uit die OTM geneem nie.”

Die gewonde slagoffer is na ʼn hospitaal vir behandeling geneem en ʼn saak van poging tot moord en opsetlike saakbeskadiging word ondersoek.

  • Die polisie het ʼn beroep gedoen op enigiemand met inligting wat tot die inhegtenisneming van die verdagtes kan lei om sers. Ntingi Moshompela by 082 466 8530 te bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Marius ·

Vat hul nog die aanvaller hospitaal toe om verder die belasting betalers se geld te mors? Dit is nogal lonend om ‘n misdadiger te wees.

David ·

Dit sal nie ophou tot ons weer ‘n regering en ‘n polisiemag het nie.

Blomme ·

M.a.w. jy kan nou nie eens meer aftrek om te rus as jy langafstand ry nie. Kan dit waar wees dat dit die situasie is waarin ons land nou is? ń Nes van Geweld!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.