Ottoshoop-polisiestasie kan nie gemeenskap dien nie

Ondersoek by Ottoshoop (Foto verskaf deur SAPD)

Die Demokratiese Alliansie (DA) in Noordwes sal die LUR vir gemeenskapsveiligheid Sello Lehari en die minister van polisie Bheki Cele versoek om dringend in te gryp oor die toestand van Ottoshoop-polisiestasie in Noordwes.

Joe McGluwa, provinsiale leier van die DA, het saam met die DA se hoofsweep in Noordwes Freddy Sonakile en DA-LP Sello Seitlholo die polisiestasie besoek om ondersoek in te stel. Hy was baie geskok oor die toestand van die polisiestasie.

“Weens ʼn gebrek aan hulpbronne kan die polisiestasie gereeld nie reageer op noodgevalle nie en dit lei uiteindelik daartoe dat talle strafregtelike sake nie oopgemaak word nie. Dit stel die gemeenskap bloot aan kriminele elemente in die gebied en hulle het geen bystand wanneer hulle dit benodig nie,” het McGluwa gesê.

Die gemeenskap van Ottoshoop, Maruping en minstens 54 plase is gevolglik grootliks afhanklik van die landelike patrollie-eenhede wat deur boere gekoördineer word.

“Sedert die polisiestasie sy deure oopgemaak het was daar ʼn groot bevolkingsaanwas in Ottoshoop, maar die hulpbronne by die polisiestasie is nie vergroot nie. Die polisiestasie is gestig om sowat 500 mense te dien. Die getal inwoners het mettertyd meer as vier keer verhoog, maar geen oudit is gedoen om die hulpbronne by te werk sodat hierdie polisiestasie optimaal kan funksioneer nie,” het McGluwa verduidelik.

Tydens gesprekke met SAPD-lede het verskeie ander uitdagings ook aan die lig gekom. Daar is onder andere geen behoorlike liasseerstelsel nie – die argiewe word in ʼn buitegebou gehou waar diewe maklik kan inbreek. “Die toestand van dié vertrek beperk die moontlikheid om onopgeloste sake weer te ondersoek.”

Ondersoek by Ottoshoop (Foto verskaf deur SAPD)

Die polisiestasie het in Desember 2018 onder rowers deurgeloop, omdat daar geen versperring is tussen die personeel en die publiek nie en die geboue op die perseel het ook herstelwerk nodig. Van die kantore buite die gebou, waar vertroulike dokumente gehou word, het deure wat nie toegemaak of gesluit kan word nie.

Die tuin word nie onderhou nie en omdat polisiebeamptes, weens die uitleg van die perseel, tussen die onderskeie geboue moet loop, is daar ʼn groot risiko vir slange. “Boere in die gebied het, uit die goedheid van hul hart, die gras gesny omdat die stasie geen bystand van die departement ontvang in die verband nie.”

Die polisiestasie het slegs ses voertuie tot sy beskikking, waarvan een tans nie ʼn battery het nie. “Daar was in die tyd toe ons die stasie besoek het, geen beskikbare voertuie vir noodgevalle nie. Twee voertuie is na dieselfde misdaadtoneel gestuur, omdat een van die voertuie ʼn pap wiel gekry het op pad.” Die stasiebevelvoerder en adjudant-offisiers, wat nie in daardie stadium in die dorp was nie, het die ander voertuie gebruik.

Die aanhoudingselle is ook vervalle. “Daar was al ʼn paar voorvalle waar misdadigers, wat by die polisiestasie aangehou is, ontsnap het weens die vervalle aanhoudingselle. Toe die departement van gesondheid ondersoek ingestel het oor die selle, is daar bepaal dat die selle nie aan die minimum vereiste standaarde voldoen nie en gebruik daarvan is opgeskort. Intussen is geen poging aangewend om die selle op te knap nie en aangehoudenes moet na Mafikeng vervoer word, ongeveer 30 km daarvandaan.”

McGluwa het gewaarsku die algehele onvermoë van die Ottoshoop-polisiestasie om misdaad te beheer, plaas uiterste druk op omliggende polisiestasies soos Mafikeng en Zeerust.

“Veediefstal, plaasaanvalle en gewelddadige en georganiseerde misdaad, waaronder transitorooftogte, bendebedrywighede en dwelmverwante misdade neem deurgaans toe en is ʼn bydraende faktor tot die epidemie van moord wat al lankal ʼn krisispunt bereik het. Dit is duidelik dat die SAPD dringend aandag benodig en die DA sal aanhou baklei vir die verbetering van polisiedienste om die veiligheid van elke burger te verseker.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Koos de Meyer. ·

Ja so gaan alles ten gronde te danke aan die regerinde party. Ons eens vooruitstrewende land in die afgrond in.

Stiks ·

Hulle moet minder op hulle selfon spandeer dan sal hulle tyd he om eenvoudige onderhoud te doen

sweis ·

Dit gaan maar oral so die moot polisie stasie in Pretoria het seker die mooiste tuin gehad nou lyk dit soos n pakhuis in sierra leone, dit is hoekom polisie persone gewerf moet word uit die area wat die polisie bedien dan sal die trots weer terug keer.

Anton ·

Alle polisie stasies is in verval. Die personeel is lankal veel erger as die geboue…

Sarel ·

Niemand sal in staat wees om sy/haar werk onder sulke omstandighede te doen nie. Die Bevelvoerder moet bewys wat hy gedoen of probeer doen het of verwyder word. Oom Cele waar is jy dit jou mense onder sulke omstandighede moet werk. Die Vakbond is ook afwesig sal seker nou will staak want dit is al waarvoor julle goed is.

wilma ·

Probleem le by die mense in charge. INCOMPETENCE. Dis net dit en nix anders.

Rm ·

Maar net weereens n voorbeeld hoe alles in die land ten gronde gaan, kan n paar polisiestasies opnoem wat oppad is om heeltemal uitmekaar te val, stasies wat pryse gewen het 30 jaar terug as van die netjieste stasies in die provinsie, maar wat, daar is mos niemand meer met dissipline in die magte nie

Pieter ·

Ek het nuus vir ouens wat kla, die Ottosdal polisie standaard is net so goed/vrot soos al die ander polisiestasies. Die dik personeel sit en slaap en doen boggerol want die voertuie is of stukkend of ry KFC toe of word gebruik vir inkopies.

Christien vd Westhuizen ·

Verval, dienslewering, werk, instandhouding, integriteit trots is vloekwoorde vir die anc regering

Arno Scheepers ·

Ekskuus tog maar is daar ENIGE polisiestasie in die land wat die gemeenskap kan dien?

Christa ·

Slegter as sleg die nuwe regering. Hulle kyk net na hul sakke en die hele land Gaan ten gronde.

Thinus Erasmus ·

Dit is die NSA/ANC probleem: altyd iemand anders se skuld!

Sarel ·

Begin die probleem aanspreek waar dit begin. Kyk of die lede self enigsins iets probeer het doen het om hul situasie te verbeter, definitief nie en hul antwoord sal wees dat dit nie hul werk is nie. Die tuinarbeider(indien jy hom/haar) nog so mag noem sit die dag onder n boom want die son is te warm. Hy mag ook nie voertuie was of vir iets anders aangewend word nie. Totale onaktiewiteit. Wonder waarom Ottoshoop uitgesonder word aangesien dit bykans oral die situasie is?

Thinus ·

Met die ANC is dit net die een groot gemors op die ander. Is daar niks wat hulle kan regkry nie? Patetiese spul, met Cele heel voor in die ry. Hulle is ‘n verleentheid vir hierdie land.

Michelle ·

Cele het seker nog nooit die naam Ottoshoop gehoor nie. Hy moes maar net Google seker dit sou opkom. Dit is ‘n skande kry die man uit en stel asb iemand aan wat werklik belang stel jul mors belasting geld.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.