Ou Warmbadpad weer oop ná oorstromings

Swaar reënval het daartoe gelei dat die brug by Pienaarsrivier deur vloedwater beskadig is. Foto: Verskaf

Lt.genl. Nneke Ledwaba, provinsiale polisiekommissaris van Limpopo, het Sondag besoek gaan aflê in die Pienaarsrivier-omgewing waar ʼn gedeelte van die R101 (Ou Warmbadpad) gesluit was nadat die brug weens vloedwater ontoeganklik was.

Lt.kol. Moatshe Ngoepe, provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê die kommissaris se ondersoek ter plaatse was om die situasie te evalueer vir enige moontlike veiligheidsrisiko’s vir die gemeenskap.

Dit volg nadat oorstromings in die gebied voorgekom het, nabygeleë HOP-huise en ander residensiële gebiede geraak is en krokodille ook in die omgewing opgemerk is.

“Die R101 is weer vir verkeer oopgestel en die situasie is terug na normaal,” het Ngoepe gesê. Daar is aanvanklik vermoed dat ʼn gedeelte van die brug weens die vloed ineengestort het, maar volgens Ngoepe is die brug weer toeganklik en veilig verklaar nadat die vloedwater gesak het.

Geen krokodille is in die direkte omgewing opgemerk nie.

Ledwaba het gesê hy is tevrede dat die situasie teruggekeer het na normaal en dat inwoners met hul lewens kan voortgaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.