Oud-Affie floreer ses jaar ná busongeluk

Schalk Viljoen (Foto: Verskaf)

Schalk Viljoen kan niks onthou van die dag wat ʼn bus hom voor die Afrikaans Hoër Seunskool in Pretoria getref het nie. Tog hou hy ses jaar later steeds emosionele én fisieke letsels van dié dag oor.

“Daardie dag is ’n blank. So asof dit nie met my gebeur het nie,” vertel die 22-jarige oud-Affie aan Maroela Media.

Schalk het 40% gehoorverlies in sy regteroor opgedoen en sy reuksintuig in sy regterneusgat verloor. Dit is egter die enigste fisieke skade wat hy van die ongeluk oorgehou het en vandag het dié toppresteerder ʼn honneursgraad in wynboutegnologie.

“Dit gaan goed met my.”

Maroela Media het vroeër berig Schalk is op daardie dag in die busbaan in Lynnwoodweg tussen Afrikaans Hoër Seuns- en Afrikaans Hoër Meisieskool getref toe hy die straat wou oorsteek. Die bus het hom gestamp en hy is deur die trefslag op ʼn ander voertuig geslinger.

Schalk het ʼn ernstige kopwond opgedoen en was op dieselfde dag van die ongeluk geopereer om die bloeding op sy brein te verlig. Dokters moes ʼn gedeelte van sy skedel uithaal om die bloeding te verlig.

Hy kon eers die tweede kwartaal weer terugkeer skool toe.

Schalk se ouers, Deon en Karen, het sy herstel as ʼn wonderwerk beskryf.

ʼn Nuwe begin

Schalk moes akademies baie hard werk om verlore tyd in te haal en sy punte weer hoër te kry. “Ek wou ook bewys dat ek dieselfde as voor die ongeluk was.”

Hy moes egter sy hokkie en krieket prysgee. Hy het voor die ongeluk vir Affies se A-hokkiespan opgedraf.

“Ek kon nie bekostig om weer ʼn stamp teen my kop te kry nie. Die dokters het destyds ʼn deel van my skedel teruggesit, maar ʼn mens se skedel groei nie terug soos enige ander been nie. Daar groei op plekke weefsel in plaas van been. So as mens weer ʼn stamp teen die kop sou kry, kan dit jou dood beteken. Omdat hokkie en krieket albei kontaksport is waar mens potensieel stampe teen die kop kan kry, moes ek dit opgee.”

Schalk het egter meer op sy akademie begin fokus en matriek met sewe onderskeidings geslaag.

Dié jong man het ná skool molekulêre biologie aan die Universiteit Stellenbosch (US) studeer. Hy het in sy derde jaar ’n liefde vir die wynbedryf ontwikkel en in sy honneursjaar in wynbiotegnologie gespesialiseer.

Hy werk tans in die kelder op die Remhoogte-wynplaas by Stellenbosch en is by die hele wynmaakproses betrokke.

‘God was by my’

Schalk Viljoen terug by die skool. Foto: Verskaf.

Schalk vertel hy onthou niks van die ongeluk of sy tyd in die hospitaal nie.

“Ek onthou die dag voor die ongeluk, maar niks van die ongeluk self nie. Ek kan hier en daar iets onthou ná die dokters my uit die koma wakker gemaak het.”

Volgens hom word hy elke keer emosioneel teruggeneem na daardie dag wanneer iemand hom uitvra oor die letsel op sy kop.

“Partykeer rol ek in die aande rond en dink aan die ongeluk.”

Schalk sê hy het eers verlede jaar berading by die universiteit se beradingsdiens gekry. Hy sê hy is spyt dat hy nie vroeër om hulp gaan aanklop het nie.

“Mens voel half skaam om te vra vir hulp. Ek weet nou dat dit nie die geval is nie. Hoe gouer ’n mens hulp kry, hoe beter.”

Schalk sê uit die ongeluk het hy opnuut besef hoe God deur mense werk.

“God het deur mense gewerk om my aan die lewe te hou en weer op die been te kry. Sonder Hom sou ek nie hier wees nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Marius ·

Die Here is genadig. Hy het jou ‘n tweede kans gegee want jy kan nog baie vir Hom doen. Maak die beste daarvan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.