Oud-Bloubul het moorde gepleeg, vrou verkrag

Ntshongwana gesels met sy ma en suster tydens gister se verskyning. Foto: Giordano Stolley/SAPA

Ntshongwana gesels met sy ma en suster tydens gister se verskyning. Foto: Giordano Stolley/SAPA

Die voormalige Bloubul-rugbyspeler Phindile Joseph Ntshongwana het vier mense met ʼn byl vermoor en ʼn vrou ontvoer en herhaaldelik verkrag.

Waarnemende regter Irfaan Khalil het Donderdag begin met sy uitspraak in die Durbanse hooggeregshof. Khalil sal egter eers Vrydag beslis of Ntshongwana bewus was van wat hy gedoen het en of hy krimineel verantwoordelik gehou kan word. Ntshongwana staan tereg op vier aanklagte van moord, twee van poging tot moord, ʼn klag van aanranding met die doel om ernstig te beseer, ontvoering en verkragting.

“Die identiteit van die beskuldigde in aanklagte een tot nege is oorweldigend en bo redelike twyfel bevestig,” het Khalil gesê. Die regter moet egter nou besluit of Ntshongwana krimineel verantwoordelik gehou kan word.

Ntshongwana het Thembelenkosini Cebekhulu op 20 Maart 2011 vermoor. Hy het twee dae later vir Paulos Hlongwa vermoor en vir Simon Ngidi ʼn dag later. Hy het ook ʼn onbekende man later die week vermoor. Hy het die mans met ʼn byl vermoor en twee van sy slagoffers onthoof.

Ntshongwana is by sy ouers se huis in Yellowwoodpark, Durban, in hegtenis geneem. Hy word ook aangekla van die ontvoering en verkragting van ʼn vrou op 28 November 2010 in Durban.

Themba Mjoli, Ntshongwana se regsverteenwoordiger, het vroeër die week tydens slotbetoë aangevoer dat sy kliënt ten tyde van die misdade aan ʼn geestesgesondheidsiekte gelei het en nie beheer oor sy dade gehad het nie. Ntshongwana hou vol dat hy niks van die gebeure kan onthou nie. Hy het nie tydens die verhoor getuig nie.

Prof Abubuker Gangat het tydens die verhoor getuig dat Ntshongwana aan ʼn waanbeeldversteuring lei. Regter Khalil het egter dié getuienis in twyfel getrek aangesien Gangat deur Ntshongwana se familie gehuur is.

Uitspraak duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Kykma ·

Die vorige een was groen . Die’ “get out of jail free card” is blou .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.