Oud-Bok se dogter tydens troosdiens onthou

Rene en haar man Edmund. Foto: Facebook

Deur Pierre Massyn

“Julle is dapper muise,” het ds. Braam Coetzee die verwese Kayla (10) en Edmund O’Ehley (8) van die kansel aangespreek in ʼn aangrypende troosdiens vir hul ma, René O’Ehley (38), in die NG Kerk op Bredasdorp.

O’Ehley, dogter van die oud-Springbokheelagter Gysie Pienaar, is op 15 Februarie in ʼn motorongeluk op die N2 tussen Botrivier en Caledon oorlede.

Die diens in ʼn stampvol kerk is bygewoon deur talle familielede, vriende en bekendes in rugbykringe. Rene se broer, Ruan Pienaar, self ʼn veelsydige Springbok in 88 toetse, het van Montpellier gekom om by sy ouers en familie te wees.

Balie Swart, Springbokstut en Wêreldbekerwenner in 1995, in gesprek met Tiaan Augustyn van Bredasdorp.

‘n Bedroefde Ruan het in ʼn huldeblyk aan sy suster gesê dat hulle saam rugby in hul ouerhuis in Bloemfontein gespeel het en dat René hom gelak het dat hy hik. Hy het ook onthul dat “Sussa” met een abnormale klein voetjie gebore is en dat sy ʼn rugoperasie moes ondergaan en ondanks onbeskryflike pyn “ongelooflik dapper” was.

René se vriendinne Marlene Bezuidenhout en Julie de Wet het René se sprankelende geaardheid, vriendelikheid en mensliewendheid onthou. “Ons is vasbeslote dat ʼn krieketwedstryd wat René voor haar tragiese dood vir die jongklomp op Bredasdorp gereël het, sal voortgaan. Dit is soos sy dit sou wou gehad het.”

Die oud-Springbokslot en telviesie-aanbieder Kobus Wiese gesels met troosdiensgangers.

Rugbysterre soos Balie Swart en Kobus Wiese, Wêreldbeker-wenners in 1995, was ook teenwoordig. In een van die huldeblyke is vermeld dat Gysie Pienaar soos ʼn vader vir die 1995 Bokke was. Pienaar was die hulpafrigter en het daardie dag agter die skerms ʼn reuserol gespeel in die Bokke se oorwinning oor die All Blacks, wat aan hulle die wêreldkroon besorg het.

Die Wêreldbeker-wengroep het finansieel bygedra tot die begrafnis en byeenkoms daarna. De Wet Ras, Springbok-losskakel wat Pienaar se spanmaat was toe die Vrystaat in 1976 die Curriebeker die eerste keer gewen het, het van Gordonsbaai gekom om sy ou kameraad by te staan.

Die broederskap wat in rugby bestaan is weer eens onderstreep toe Bismarck du Plessis, Springbokhaker en Ruan se spanmaat by Montpellier, se ondersteuningsrol in die tragedie vermeld is. Du Plessis en Pienaar junior was saam op Grey Kollege in Bloemfontein.

O’Ehley was tot einde verlede jaar ʼn gr. R-onderwyseres aan die Laerskool Bredasdorp. Sy en haar man, Edmund, en hul twee kinders het op dié dorp gewoon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Rudolph van Wyk ·

Dit is so hartseer! Die getal sterftes op ons paaie en die aantal geweldmisdaad slagoffers maak ons land ‘n baie gevaarlike plek om in te woon. Dit vereis ‘n hoë vlak van waaksaamheid wat moeilik is om te handhaaf. Een waaksame persoon kan nie kompenseer vir die tien nalatige en roekeloses nie. Op ‘n dag gaan die wet van waarskynlikheid van jou ‘n slagoffer maak. Intussen moet ons en naastes waaksaamheid en versigtigheid leer en handhaaf.

Boerboel ·

Baie mooi gebaar van die oud Sprinkbokke om te help bydra tot die begrafnis. Sterkte aan die familie.

Buffel ·

Wonderlike gebaar van die springbok rugbyfamilie om hulle so by te staan. Dis soos dit hoort.

Anoniem ·

Wat ‘n mooi manier om te GROET ! Sterkte aan AL die naasbestaandes ??

Verwonderd ·

Ek is nie verwonderd maar uiters geskok dat ń ds die kinders met muise vergelyk. Sies man.

Michael ·

Mense dit is tragies so n mooi jong vrou weg geneem van so n baie mooi famielie maar God het n doel met alles in die lewe. Ek was per toeval in Bredasdorp en vir Ruan ontmoet in die gaste huis. Ek kon die hartseer in sy oe sien .Dit is baie seer om n famielie lid te verloor .Sterkte aan die famielie met die pad na herstel. God se hand is oor julle.

Anti-Negatief ·

Ai “verwonderd”, moet jy met jou negatiwiteit nou weer op loop gaan oor so ‘n onbenulligheid! Sies vir jou! Die dominee het probeer om met die kinders op hulle vlak te praat, seker na aanleiding van die liedjie “Ek’s ‘n dapper muis…….en daar’s niks waarvoor ek skrik nie…..” Kry ‘n stokperdjie sodat jou wêreldjie nie so bekramp is dat jy oor so-iets kla nie! Wees eerder simpatiek oor die kinders se verskriklike verlies!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.