Oud-Bok se pa sterf ná hoewe-aanval

André van Biljon (Foto: Facebook / Martin van Biljon)

André van Biljon (69), die man wat Saterdag tydens ʼn aanval op ʼn kleinhoewe buite Oranjeville in die Vrystaat in die borskas en hand geskiet is, is Dinsdag in die Pelonomi-staatshospitaal dood.

Hy en sy seun, die voormalige Springbokhaker Lukas van Biljon, is albei in die aanval beseer. Lukas is verskeie kere met ’n mes gesteek en sy kinders is met kabelbinders vasgebind.

“Ons is kwaad. Dis baie moeilik om te aanvaar. As hy nog aan ʼn hartaanval of ʼn ander natuurlike oorsaak dood is, sou dit makliker gewees het. Ons sit met baie woede,” het André se skoonsuster, Miatha van Biljon (46), oor sy afsterwe gesê. Miatha is met André se jonger broer, Martin (49), getroud – wat ook besonders na aan André was.

Miatha sê haar swaer se dood gaan veral ook vir sy vrou, Christa, moeilik wees om te verwerk. Die kleinhoewe behoort aan Lukas, maar André en Christa het in hul eie huis op dieselfde hoewe gewoon. Christa is nie tydens die voorval beseer nie.

Miatha sê dit gaan onder omstandighede “goed” met Lukas.

André se dood is egter ʼn bitter pil vir die hele familie om te sluk.

“André was so ʼn spesiale mens. Ek dink nie ek het hom al ooit kwaad gesien nie. Ons weet nie hoe om te voel nie.”

Sy verduidelik dat hoewel dokters en personeel by die Pelonomi-hospitaal alles in hul vermoë gedoen het om André te help, was die beserings wat hy tydens die aanval opgedoen het, net te ernstig. Hy was die afgelope paar dae in die intensiewesorgeenheid van dié hospitaal behandel.

Die voormalige Springbokhaker, Lukas van Biljon (Foto: Facebook / Lukas van Biljon)

“Hulle moes sy hart Dinsdagoggend twee keer skok om dit weer aan die gang te kry. Die hospitaal het om en by 10:00 gebel om te sê daar is niks meer wat hulle vir hom kan doen nie.”

Nietemin vind die familie vertroosting in die goeie sorg wat André by die hospitaal ontvang het.

Die familie wil egter weet of politici, soos polisieminister Bheki Cele, André se dood gaan betreur – en wat aan die vlaag plaas- en kleinhoeweaanvalle en -moorde gedoen gaan word.

“Dit voel asof niks gebeur nie. Gaan iemand ooit iets aan die probleem doen?”

Die polisie het vroeër gesê dat ses gewapende mans Lukas, André en die kinders Saterdag in die vroeë oggendure oorval het. Twee verdagtes is kort daarna vasgekeer en het Dinsdag in die Heilbron-landdroshof verskyn. Die polisie het nog nie aangedui of die aanklagte van poging tot moord al na moord verander is nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Suzette ·

Baie sterkte aan sy geliefdes. Oranjeville was nog altyd so rustig en stil.

JohanEtz ·

Ai….was self byna statistiek in Pelonomi…..
Sterkte aan familie n vriende

Cathy ·

Hoe hartseer! My hart gaan uit na die familie. Ek verstaan die woede, hartseer en verwarring. Hoe maak mens sin van so iets?

Papsak ·

Sterkte vir familie Andre rus in vrede jy op beter plek jou was n skok maar mag hulle ver gebere word gemors

Hannelie ·

My hart gaan uit na die familie. En Bheki Cele sal niks doen nie, want hy voel niks vir ander mense se hartseer

Koen ·

Jammer om te sê. Dit was maar presies dieselfde voor ’94. Dink jy die NP minister van polisie sou by ‘n anderskleurige moord gewees het? Soos die bybel sê. Wat jy saai sal jy maai. Miskien is dit nou maai tyd vir ons?

JohanR ·

‘n Boer in die land moet elke dag wonder of vandag die dag is, Jy kan jou plaas, familie en werkers net soever beskerm maar jy kan nie in ‘n hoekie lewe nie…..jy moet boer, en Cyril en sy ministers se lekker kos op hulle tafels sit. Nee dit kom NIE van Spar, P&P, Checkers, Shoprite en Woolworths nie!

Skappie ·

Nog iemand wat vermoor is op ‘n plaas. Nou waar is die polisiehoof nou. Sterte aan die gesin en vriende kring van Andre. Mag onse liewe Heer julle almal deur hierdie moeilike tyd deur dra. Mag die ander 4 bose mense ook gevang word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.