Die oud-Springbokkaptein Theuns Stofberg is in ’n ernstige toestand in die hospitaal nadat hy Maandagaand in ’n motorongeluk betrokke was.
Stofberg (68) was omstreeks 19:45 in ʼn trompop botsing op die R304-pad buite Stellenbosch in die Wes-Kaap betrokke.
Hy is in ʼn kritieke toestand na ʼn hospitaal gehaas en word tans steeds in die intensiewe sorgeenheid behandel. Sy pelvis en sommige van sy ribbes is gebreek. Hy moes ook ʼn operasie ondergaan om inwendige bloeding te stop, het ʼn bloedoortapping ondergaan en is tans aan ʼn ventilator gekoppel.
Volgens sers. Wesley Twigg, polisiewoordvoerder, het ʼn vrou in die ander voertuig tydens die ongeluk omgekom.
“Die omstandighede rondom die ongeluk word ondersoek,” sê Twigg. “Enigiemand met meer inligting kan die Stop Misdaadnommer by 08600 10111 skakel.”
Gebede en boodskappe van beterskap vir die oud-Springbokkaptein het intussen op sosiale media begin instroom.
The Waterhole Rugby Museum, Global Sports News en SupaRugby het op hul Facebook-blad gevra dat mense vir Stofberg se spoedige herstel sal bid.
Die FAK het sy skok oor die ongeluk te kenne gegee. Stofberg is die kleinseun van NJ van der Merwe, die eerste hoof en een van die medestigters van die FAK.
In 2019 het Stofberg die brons borsbeeld van sy oupa by die FAK-kantoor onthul ter herdenking van die organisasie se 90ste bestaansjaar.

In 2019 het Stofberg die brons borsbeeld van sy oupa by die FAK-kantoor onthul ter herdenking van die organisasie se 90ste bestaansjaar [Foto: Verskaf]
“Theuns is werklik ʼn sportpionier vir Suid-Afrika. Hy word gesien as een van die beste spelers wat nóg die Groen-en-goud aangetrek het en is ʼn ambassadeur vir ons land,” sê Langner.
“Hy en sy familie is in ons gebede in hierdie moeilike tyd.”
Dit is baie hartseer nuus. Sterkte vir Theuns. Sterkte vir die naasbestaandes van persoon in ander voertuig.
Gevaarlike pad!… Vanjaar 3-mense reg voor my se dood daar aanskou.
Sterkte vir almal wat hierdeur geraak word.
Theuns Stofberg was ‘n wonderlike speler. Het baie by ou Nuweland gaan kyk. Sterkte familie en hoop hy trek deur.
Fantastiese speler en nog ‘n beter leier en kaptein. Sterkte hoop hy herstel gou.
Hartseer. Hoop jy word gou gesond. Sterkte aan almal.