Oud-EFF-hoë se dogter dood gevind

Hillary Gardee. (Foto: Verskaf)

Die liggaam van Hillary Gardee, dogter van die voormalige sekretaris-generaal van die EFF Godrich Gardee, is Dinsdag buite Mbombela (Nelspruit) in Mpumalanga aangetref.

Sy word sedert die naweek vermis nadat sy Vrydag laas by die Spar-supermark in Mbombela gesien is.

Gardee se liggaam is vanoggend deur lede van die gemeenskap gevind. Die polisie is ontbied en Gardee se liggaam is deur ʼn familielid uitgeken.

Sy het glo verskeie beserings aan haar bolyf opgedoen en die polisie ondersoek nou ʼn saak van moord.

Die EFF het in ʼn verklaring gesê dat Gardee se familie ontsteld is oor haar dood en dat die kollektiewe leierskap van dié party “stomgeslaan is” oor die voorval.

“Haar dood het onmeetbare verwoesting gelaat en Godrich worstel nou met die pyn om ʼn kind op so ʼn gevoellose, wrede en onmenslike manier te verloor,” sê die EFF.

Die 28-jarige se familie het ten tyde van haar verdwyning R100 000 uitgeloof vir enigiemand met inligting oor waar sy haar bevind.

Kol. Donald Mdhluli, polisiewoordvoerder, het vroeër gesê dat Gardee saam met ʼn driejarige dogtertjie was toe sy spoorloos verdwyn het. Die kind, wat sy aangeneem het, is gevind, maar daar was geen teken van Gardee nie.

Volgens die EFF was Gardee ʼn entoesiastiese, vriendelike en liefdevolle mens wat ʼn groot passie vir inligtingstegnologie (IT) gehad het.

“Sy was ʼn deeltydse student aan die Universiteit van Suid-Afrika, terwyl sy haar eie IT-onderneming bedryf het.

“Sy het boonop na die kind gekyk asof dit haar eie was – ʼn inspirerende daad vir ʼn vrou van so ʼn jong ouderdom,” sê die EFF.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

16 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jacob

Dit is so onnodig, net soos plaasmoorde.

Misky

Jammer vir die gesin en oorlewendes. Ongelukkig is dit die realiteit en waarmee miljoene van ons daagliks moet saamleef en die wete dat dit enige dag jy of jou gesin kan wees wie se lewe geneem kan word.

De Villiers

Niemand word gevrywaar van hierdie afskuwelike dade nie, nie eers die EFF en hulle lede nie!

Hoekom dan maar nie die rasse-haat los, en liewer hande vat, sodat ons ‘n beter, veilige Suid Afrika kan bou vir ALMAL nie, EFF?

Marius

Die plaasmoorde is net so wreed indien nie erger nie.

Janine

“Haar dood het onmeetbare verwoesting gelaat en Godrich worstel nou met die pyn om ʼn kind op so ʼn gevoellose, wrede en onmenslike manier te verloor,” sê die EFF. Dis presies hoe ONS voel wanneer ons geliefdes wreedaardig weggeruk word!