Oud-EFF-leier en prokureur hoor dán oor POF-lot

Betty Diale (Foto: EFF)

Die voormalige prokureur en EFF-leier in Noordwes, Betty Diale, sal aan die einde van die maand weet of haar vertoë aan die direkteur van openbare vervolging (DOV) aanvaar is.

Diale (52) het Dinsdag in die Rustenburg-streekhof op aanklag van diefstal verskyn.

Henry Mamothame, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), sê indien die vertoë deur die DOV verwerp word, sal ’n nuwe verhoordatum deur alle partye bepaal word.

Diale staan tereg op ses aanklagte van diefstal, ten bedrae van ongeveer R700 000, wat sy na bewering van eisers van die Padongelukkefonds (POF) gesteel het.

Polisieverslae onthul dat die Getrouheidsfonds vir Regspraktisyns verskeie klagtes ontvang het van die POF-eisers wie se betalings in Diale se trustrekening inbetaal is.

“Die eisers het beweer dat die genoemde geld hulle nie ná die uitbetaling bereik het nie en dit is daarna by die polisie aangemeld vir ondersoek. Diale het as prokureur gepraktiseer tydens die beweerde pleging van die misdade – tussen 2009 en 2011 – en is daarna op ses aanklagte van diefstal in Junie 2021 verhoor,” bevestig Mamothame.

Sy is van die rol geskrap en kan sodoende nie verder as prokureur praktiseer nie. Sy is ook nie meer betrokke by die EFF-leierskorps in Noordwes nie.

Volgens Mamothame is ’n lasbrief vir Diale se inhegtenisneming voorheen uitgereik omdat sy versuim het om op 26 September in die hof te verskyn en ook nie redes vir haar afwesigheid verskaf het nie.

Sy is op 6 Oktober weer in hegtenis geneem en op waarskuwing vrygelaat.

“’n Ondersoek is oor haar afwesigheid van stapel gestuur, en die hof het daarna haar mediese sertifikaat as bewys van haar afwesigheid aanvaar. Alle nodige dokumente is ter voorbereiding van die verhoor aan haar verskaf, aangesien sy aangedui het dat sy haarself tydens verrigtinge sou verteenwoordig.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Kaal Keiser ·

Sy kwalifiseer net om n aanmerking te kom vir verdere politieke loopbaan…

SjN ·

Sy het sopas die eerste hekkie tot sukses vir kader aansrelling geslaag.

Sobymykoolkop ·

As die “leiers” vbs se geld vir hulle self kan vat, voel sy verplig om ook ń voorbeeld vir die meelopers te stel, dis in elkgeval kortpad parlement toe.

Yvonne ·

Hoe werk die regstelsel vir kriminele??…..of liewer die regstelsel week nie vir almal dieselfde nie…hulle het geen respek vir die reg nie etc….

Manie ·

Wat het dan van onkreukbare karakter vir politici geword? Lyk vir my asof ‘n kriminele rekord nou ‘n voorvereiste is.

JohanR ·

Waar het jy al ooit ‘n politieke party gesien wat lyk asof op pad is na ‘n bou perseel vir die dag!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.