Die Pretoriase streekhof sal na verwagting Donderdagoggend uitspraak lewer in die staat se multimiljoenrand belastingbedrogsaak teen die voormalige senior bestuurder van Eskom, France Hlakudi.
Maroela Media het vroeër berig Hlakudi word saam met vier ander persone daarvan beskuldig dat hulle nagenoeg R745 miljoen wat bedoel was vir Eskom-projekte gesteel het. Hlakudi het glo miljoene van Eskom-subkontrakteurs ontvang in die tyd toe hy senior bestuurder van Eskom se Kusile-kragstasie was.
Hlakudi is in Maart verlede jaar ook van belastingbedrog aangekla nadat hy glo nie sy inkomste tussen 2016 en 2018 verklaar het nie – wat ʼn verlies van sowat R30,2 miljoen vir die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) beteken het.
Hlakudi het verlede maand ʼn aansoek gebring om die aanklag van bedrog van die klagstaat te verwyder.
Sindisiwe Twala, ʼn woordvoerder van die ondersoekdirektoraat van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), sê landdros Adriaan Bekker sal na verwagting later vanoggend uitspraak lewer oor die vraag of die aanklag van bedrog teen Hlakudi moet bly al dan nie.
Indien Bekker beslis dat die klag nié van die klagstaat verwyder word nie, kan Hlakudi 15 jaar tronkstraf opgelê word sou hy skuldig bevind word.
Uitspraak word volgens Twala omstreeks 09:00 gelewer.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
9 Kommentare
Vreemd dat dié man nog verhoor word. Korrupsie is dan volgens sekere ANC leiers “n westerse konsep”. Maar verhoor tog asseblief vir André de Ruyter. Hy het mos die amperse doodsonde van rassisme gepleeg. Dis mos die toppunt van misdaad in SA.
Sal interessant wees om die uitkoms te sien….. of dit sal realiseer (tronkstraf) AS dit nie geskrap word nie sal ons ook maar eers moet wag en sien.
Dadels sè ek jou,DADELS…..dis al wat hiervan gaan kom…..absolutely Boggerol!!!
R745mil en hy wil klag van bedrog laat verwyder? Dit laat mens onwillekeurig dink of hy werklik die omvang van die misdaad verstaan en of hy werklik glo dat hy niks verkeerd gedoen het nie. Dit bring mens dan terug by intellektuele kapasiteit en wyse denke.
Goeie Griet, as die belasting R30,2 miljoen was, hoeveel het hy dan “verdien”.