Oud-Fidelity-werknemer gevonnis oor roof van R12 miljoen

Argieffoto (Fidelity Security)

Mbuyiseni Vincent Mthembu (37), ʼn voormalige werknemer van Fidelity, is in ʼn hof in KwaZulu-Natal gevonnis in verband met ʼn rooftog by ʼn depot van dié maatskappy in Vryheid.

Kapt. Simphiwe Mhlongo, woordvoerder van die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke), het gesê Mthembu is in die Madadeni-hooggeregshof tot 12 jaar direkte tronkstraf gevonnis in verband met die rooftog.

“Mthembu en sy medepligtiges het op 1 September 2017 veiligheidswagte by die depot oorrompel, hulle met vuurwapens gedreig en die sleutels na die kluis geëis,” het Mhlongo verduidelik. “Hulle het meer as R12 miljoen gebuit toe hulle toegang tot die kluis kon bekom.”

ʼn Saak van sakeroof is by die Vryheid-polisiestasie aanhangig gemaak. Vyf beskuldigdes, Phakamini Hadebe (32), Mnikeni Khohlwezakhe Majozi (59), Thembokwakhe Robert Nzama (41), Zakhele Ernesty Xulu (32) en Mthembu is later in hegtenis geneem. “Lede van die Valke het tydens die inhegtenisnemings beslag gelê op R700 000 van die verdagtes.”

Majozi en Nzama het gevlug ná hulle vrygelaat is op borgtog van R30 000. Lasbriewe vir hul inhegtenisneming is uitgereik. Hulle is steeds voortvlugtig, het Mhlongo bygevoeg. Mthembu is Maandag gevonnis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Db ·

Strawwe en borg wat uitgedeel word laat my dink aan die sirkus. Almal wil die hoofnar wees

Gemaskerde Sopbeen ·

Nou word hy op belastingbetalers-koste versorg vir die volgende 12 jaar…en hy stap op 49 daar uit met 20% van R11,3 miljoen….Ek ken mense wat vir 47 jaar werk, en aftree op 65 met veel minder as dit…..Crime Pays!!

Heksie ·

Waar is die res van die geld? In die sakke van die Valke se lede?

Johan ·

Nét 12 jaar direkte tronkstraf? Dis n skande. Transito-rooftogte moet beskou word as uiters verswarend. Lewenslank sal meer gepas wees.

Carl Jordaan ·

Skokkend min. Met afslag en “goeie gedrag” is hy oor ses of sewe jaar weer los en het hy by die universiteit van kriminele opleiding, geleer om beter voorsorg te tref dat hy nie weer vas getrap sal word nie.

ne ·

Leef lekker vir die vonnis tydperk op belasting geld. Dan kom hy uit leef lekker met die ander geld – sodra dit op is roof hy maar weer. Lewenslank sal beter gewees het.

Chris Ws ·

R30,000 borg is absuluut te min vir ‘n gewapende rooftog waarby R12 miljoen by betrokke is.Waar is die regter se verstand?Hy moes minstens R5 miljoen borg gevra het vir elkeen.En ja ‘n lewenslange vonnis sou gepas gewees het en nie twaalf jaar nie!Dis belaglik.Mense wat iemand net skrikmaak met ‘n doodskis sonder om vuurwapens te gebruik kry 11 tot 15 jaar tronkstraf.Hoe kan mens dit verstaan?

willem botha ·

Ek glo hy sal n werkie by die polisie kry as hy uitkom.

Michelle ·

Wat ‘n skande vir private sekuriteit bedryf hoe keur Fidelity dan hul mense vra maar net. Die borgtog is seker ‘n grap en die en straf ook het Cele nie gese die uiterste straf sal gegee word vir transito rooftogte nie of was dit maar net om die mens wat op geplaas en dood geskiet is se families vir ‘n rukkie van sy rug af te haal. Vir die land is daar nie meer hoop nie want misdaad betaal definitief. Die miljoene wat nog nie gevind is nie word heerlik gespandeer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.