Oud-gesondheidshoof in hof oor Esidimeni-verhoor

Voormalige hoof van gesondheid dr. Barney Tiego Selebano (Foto verskaf deur die Gautengse departement van gesondheid)

Barney Tiego Selebano, voormalige hoof van die Gautengse departement van gesondheid, se dringende aansoek in die Johannesburgse hooggeregshof om ʼn dagvaarding ter syde te stel wat hom opdrag gee om tydens die Life Esidimeni-arbitrasieverhoor te getuig is tot Woensdag uitgestel.

Selebano, ʼn algemene praktisyn, het Dinsdag stil in die hof gesit en na die verrigtinge geluister.

Nadat die saak uitgestel is en hy die hofgebou saam met sy prokureur verlaat het, het hy gesê: “Dít is glad nie aangenaam nie.”

Hy is in Februarie geskors vir growwe wangedrag en onbekwaamheid en sy gedrag is by die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika (RGBSA) aangemeld soos aanbeveel in die gesondheidsombudsman, Malegapuru Makgoba, se verdoemende verslag oor die Life Esidimeni-projek.

Makgoba het aanbeveel dat sy gedrag by die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika (RGBSA) aangemeld word.

Ten minste 143 pasiënte is in die proses dood weens verwaarlosing en verhongering.

Adjunkhoofregter Dikgang Moseneke het Selebano gedagvaar om in die arbitrasieverhoor te getuig ná hy geweier en geappelleer het teen sy skorsing sowel as Makgoba se bevinding teen hom.

Sy poging om Makgoba se bevindings by ʼn onafhanklike ad hoc-tribunaal ter syde te laat stel in ʼn Gautengse hooggeregshof het verlede week misluk.

Qedani Mahlangu, voormalige LUR van gesondheid en Selebano se hoof, het in die lig van die verdoemende verslag bedank. Mahlangu sal in Januarie haar kant van die saak in die arbitrasieverhoor stel.

Gwen Ramokgopa, LUR vir gesondheid in Gauteng, het die afgelope naweek aan verslaggewers gesê meer beamptes, onder wie die finansiële hoof, het bedank.

Ramokgopa, Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, en David Makhura, Gauteng se premier, het ʼn ingrypingspan aangestel wat bestaan uit kenners om die gesondheidstelsel by te staan.

Ramokgopa het gesê die Life Esidimeni-tragedie het verskeie tekortkominge in die departement blootgelê.

Die provinsiale departement het sedertdien vir Michael Sachs, die voormalige hoof van begroting by die nasionale tesourie, as hoof van dié span aangewys. Sachs het drie weke gelede by die tesourie bedank.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

kat ·

Hy is ook seker dood-onskuldig!
Ek hoop hulle peper en nail hom met die vrae!!!
Hy wil mos weghol nes die een wat nou in Engeland is. Kan geen verantwoordelikheid neem nie – maak droog en laat mense sterf en hol dan weg.
Hulle is almal dieselfde. Kyk vir die een wat die geld in die sak gesteek het nadat die d pasient gesterf het deur growwe nalatigheid – en sy neem nog steeds die geld?
Daar is mos geen menslikheid daaraan nie? En die een op die foto hiebo wil weghol soos ek se . My kop skud heen en weer en heen en weer!!!

Lientjie ·

Ek kan nie glo dat hulle net mooi geen verantwoorlikheid wil aanvaar nie. Super sleg!

snoefie ·

die blote feit dat hy nie wil getuig nie, spreek boekdele. dan is hy nog n mediese dr? hdf?

Eish ·

Die totale afwesigheid van verantwoordbaarheid en professionaliteit is skreiend. Hoop hul word aangekla van minstens stafbare manslag. Née o genade, noem sommer die affêre die Life Epidemie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.