Oud-gesondheidshoof wil nie by Esidimeni getuig nie

Voormalige hoof van gesondheid dr. Barney Tiego Selebano (Foto verskaf deur die Gautengse departement van gesondheid)

Barney Tiego Selebano, voormalige hoof van die departement van gesondheid, het ʼn dringende aansoek in die Johannesburgse hooggeregshof ingedien om ʼn dagvaarding tersyde te stel wat om opdrag gee om tydens die Life Esidimeni-arbitrasieverhoor te getuig.

Die dagvaarding is op 31 Oktober op Selebano bedien, het staatsprokureur Tebogo Hutamo Woensdag by die verhoor gesê. “Hy moet op 4 Desember voor die verhoor verskyn. Selebano het egter gister [Dinsdag] ʼn dringende aansoek in die hooggeregshof gebring om die dagvaarding tersyde te stel. Die saak sal op 28 November aangehoor word,” het Hutamo verduidelik. “Ons oorweeg sy aansoek en sal so gou as moontlik terugvoer gee aan die publiek en hierdie arbitrasieverhoor. Ons is van mening dat hy veronderstel is om hier te verskyn, omdat hy gedagvaar is.”

Selebano is een van die topbeamptes wat beskuldig word in die dodelike Life Esidimeni-projek waar minstens 141 psigiatriese pasiënte weens verwaarlosing en verhongering gesterf het toe hulle na ongelisensieerde NRO’s oorgeplaas is.

Hy is in Februarie geskors vir growwe wangedrag en onbekwaamheid en sy gedrag is by die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika (RGBSA) aangemeld soos aanbeveel in die gesondheidsombudsman, Malegapuru Makgoba, se verdoemende verslag oor die projek.

Die projek is in daardie stadium bestuur deur die voormalige LUR vir gesondheid Qedani Mahlangu. Prokureurs probeer intussen egter steeds Mahlangu se fisiese adres in Engeland bekom, waar sy studeer. Niemand weet waar sy in Engeland bly nie, het Hutamo gesê. ʼn Span prokureurs, BBM Attorneys, is aangestel om seker te maak dat sy die dagvaarding ontvang om voor die verhoor te verskyn. “Ons werk hard om seker te maak dat sy vandeesmaand [November] voor die verhoor sal verskyn.”

Mahlangu word daarvan beskuldig dat sy verantwoordelik is vir die oorplasing van die pasiënte. Sy het haar bedanking ingedien toe die Life Esidimeni-tragedie ontvou het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

zoom zoom ·

As hy nie iets het om weg te steek hoekom getuig die man nie.

Wim Kotze ·

Waar kom julle nou aan hierdie uitheemse idees?Arme dokter Selebanana was net die baas, en het die geld gekry, maar hy kan nie vir sy ondergeskiktes se dade verantwoordelik gehou word nie.

Pierre ·

As hoof van hierdie afdeling moes hy van beter geweet het. Hier is 141 mense dood as gevolg van slegte besluitneming, hulle moes beslis voorsien het wat die implikasies sou wees met die verskuiwing, dis wat enige redelike mens sou doen. Ek ondersteun dus dat elke persoon van die hoogste vlak af tot by die heel laaste persoon wat hierdie mense moes behandel het aangekla word van moord want dit is presies wat dit was.

Uvonka ·

Dit is verregaande dat hooggeplaaste mense deesdae kan kies of hulle wil getuig al dan nie. Die man is gedagvaar om te getuig en dit is hoe die stelsel werk.

Emma ·

Nog ń voorbeeld van “ons wil nie veranrwoordelikheid vir ons besluite neem nie”!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.