Oud-hoës in hof oor beweerde kaping van Transnet

Die beskuldigdes Vrydag in die hof. (Foto: Verskaf)

Siyabonga Gama, die voormalige uitvoerende hoof van Transnet, het Vrydag saam met onder andere vier ander voormalige senior amptenare van dié staatsvervoergroep in die beskuldigdebank van die Palm Ridge-handelshof verskyn op aanklagte van bedrog, korrupsie en geldwassery.

Gama is vanoggend saam met Garry Pita, voormalige finansiële hoof van Transnet, Phetolo Ramosebudi, voormalige tesourier van Transnet, Eric Wood, aandeelhouer in die maatskappy Regiments, en Daniel Roy, direkteur en batebestuurder van die maatskappy Trillian, in hegtenis geneem nadat hulle hul by die Brackendowns-polisiestasie in Alberton oorgegee het.

Die vyf het saam met die sakeman Kuben Moodley, eienaar van die maatskappy Albatime, in die beskuldigdebank verskyn. Moodley is reeds in September 2021 in hegtenis geneem.

Gama, Pita en Roy is intussen op borgtog van R50 000 elk vrygelaat, terwyl Wood op borgtog van R250 000 vrygelaat ​​is. Ramosebudi is borgtog van R25 000 toegestaan.

Die beskuldigdes Vrydag in die hof. (Foto: Verskaf)

Hulle word ook aangekla van die oortreding van die Wet op Bestuur van Openbare Finansies.

Sindisiwe Seboka, woordvoerder van die ondersoekdirektoraat (OD) van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), sê die vyf hooggeplaastes se inhegtenisneming hou verband met die verkryging van 1 064 lokomotiewe.

Transnet het in 2012 ’n tender aangevra om ’n kontrakteur aan te stel vir raadgewende dienste om finansiering van $2,5 miljard (gelykstaande aan R30 miljard destyds) vir die lokomotiewe te verseker.

JB Morgan is eindelik in Mei 2015 aangestel om raadgewende dienste te lewer. Die betrokke amptenare by Transnet het egter vanaf Julie tot Oktober 2015 glo begin om die beëindiging van die JB Morgan-kontrak te fasiliteer wat eindelik daartoe gelei het dat Trillian in Oktober 2015 aangestel is.

Seboka sê ’n faktuur van R93,4 miljoen is toe met Roy se hulp deur Trillian ingedien. Die faktuur is deur Pita en Gama goedgekeur en ’n betaling is op 3 Desember 2015 aan Trillian gemaak.

R74 miljoen is drie dae daarna sonder enige duidelike verklaring aan Albatime, wat deur Moodley besit word, betaal.

Dít nadat Transnet in Junie 2015 R189 miljoen aan Regiments oorbetaal het – glo vir dieselfde dienste.

Adv. Andrea Johnson, direkteur van die OD, het intussen gesê sy is vol vertroue dat die OD op koers is om diegene aanspreeklik te hou wat na bewering in die kern van staatskaping gestaan of dit gefasiliteer het.

Nog inhegtenisnemings word glo verwag voordat die verdagtes weer op 13 Junie in die hof sal verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Lourens CFG ·

Uiteindelik begin iets gebeur. Hoop hul probeer dringend die geld terugkry, én dat hul verhoed word om die “Stalingrad” taktiek te gebruik soos z.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.