Oud-hoof van Valke nou aan stuur van teenkorrupsie-eenheid

Shadrack Sibiya. Foto: Voice FM

Shadrack Sibiya. Foto: Voice FM

Shadrack Sibiya, voormalige hoof van die Valke in Gauteng, is aangestel as die hoof van Johannesburg se teenkorrupsie-eenheid wat soortgelyke werk as die Valke sal doen, maar onafhanklik bedryf sal word.

Herman Mashaba, Johannesburg se burgemeester, het Woensdag Sibiya aan verslaggewers voorgestel. Mashaba het lêers by hom gehad wat volgens hom korrupsie-sake bevat wat na bewering deur die vorige ANC-administrasie gepleeg is en die stad miljoene rande uit die sak gejaag het. Volgens Mashaba moes die stad “die beste ondersoeker in die land” kry om dié korrupsie oop te vlek.

“Toe ek hier oorgeneem het, het ek op korrupsiesake afgekom wat dringende aandag vereis. Omdat ek nie die kennis en kundigheid het om dit behoorlik te ondersoek nie, is hierdie eenheid op die been gebring,” het Mashaba gesê.

Hy het gesê die sake wissel van die onregmatige toekenning van tenders tot die onwettige aanstelling van personeel. Die meeste sake is deur fluitjieblasers binne die Stad Johannesburg aangemeld.

Volgens Mashaba is die ondersoekeenheid nie op die been gebring om van personeel ontslae te raak nie. “Ek glo in demokrasie en ek glo in regverdigheid. Terselfdertyd het ek nie tyd vir korrupsie nie omdat dit ons mense beroof. Ons het ʼn hoë werkloosheidsyfer en inwoners wat huise nodig het. Daarom vind ek dit moeilik [om te verstaan] dat iemand in die eerste plek openbare geld kan steel.”

Hy het gesê toe die stad begin het om bewyse van die korrupsie in te samel, het sommige personeellede bedank nog voordat ouditeurs van KPMG met hul ondersoek kon begin. “Een ding wat ek diegene wat by die stad gesteel het kan verseker, is dat om te bedank nie hulle probleme gaan oplos nie. Ek sal seker maak dat die geld teruggekry word en dat die skuldiges agter tralies beland.”

Mashaba het gesê sy opdrag aan Sibiya was om ʼn effektiewe eenheid te bestuur wat die stad kan bekostig. “Die hoeveelheid sake wat julle hier sien moet dringend en effektief ondersoek word. Daar is korrupsie in byna al die departemente in die stad aanwesig. Die korrupsie begin op ʼn klein skaal, soos poste wat verkoop is. Selfs die poste vir lae-vaardighede is verkoop. Dít is hoe erg die situasie is.”

Mashaba het gesê sommige van die sake is by die stad se interne forensiese eenheid aangemeld tydens die vorige administrasie se termyn, maar dit is nooit ondersoek nie.

Sibiya het gesê hy sal sy werk sonder vrees of vooroordeel doen. “Ons sal ons werk binne die grense van die reg doen soos deur die Grondwet vereis. Ek en my span sal hard werk om te verseker dat die Stad Johannesburg gereinig word van die kankeragtige siekte van korrupsie,” het hy gesê.

Mashaba het gesê daar sal Sondag ʼn “groot exposé” wees oor een van die sake wat deur KPMG ondersoek is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Buitestander ·

Ek is dankbaar dat daar so teen kurpsie opgetreë word.

Theo B ·

Wat ‘n grap!
As julle die man ken soos ons oud kollegas hom ken sal niemand sy gesange besing nie.
Shadrack onthou net, die skouers waarop jy getrap het tydens jou loopbaan bouery gaan nie meer daar wees as jy wil af kom nie!

Johan Fourie ·

Shadrack bly om te hooe jy is posetief,Ag toe begin
by ons PRESEDENT A.S.B

Lance ·

Vat net geweldig lank vir die mense om tot die slotsom te kom ….skrik altyd te laat ….anc het SA gesink !

Maria Van Dieweeck ·

GOEIE NUUS! Hiehie sekere `comrats’ het seker nou benoude, groot boude.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.