Oud-hoofsekretaris van Mynwerkersunie sterf

Peet Ungerer

Peet Ungerer

Peet Ungerer, eertydse hoofsekretaris van die Mynwerkersunie (MWU), is aan orgaanversaking in die Krugersdorp-privaathospitaal oorlede.

Hy was 78 jaar oud en sy gesondheid het die afgelope paar weke baie verswak. Sy gesin en familielede was by hom toe hy Woensdagaand in sy slaap oorlede is. Hy word oorleef deur sy vrou, Anette, twee kinders, vier kleinkinders en twee agterkleinseuns. Die familie het hul dank teenoor die hospitaal se personeel uitgespreek vir die voortreflike behandeling wat hy daar ontvang het. Die begrafnisreëlings sal later bekendgemaak word.

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging wat uit die MWU ontstaan het, het gesê Ungerer was ’n sterk leier met ’n sagte hart wat werklik vir sy lede omgegee het. Ungerer het ’n groot rol gespeel om die vakbond se lede te beskerm tydens die historiese stroomversnellings toe hy van 1987 tot 1997 die vakbond se hoof was. Hy het saam met Cyril Ramaphosa, destydse hoofsekretaris van die Nasionale Unie van Mynwerkers (NUM), die leiding geneem om die rassekonflik op veral die Vrystaatse goudveld in die vroeë 1990’s op te los.

Buys het gesê Ungerer was ’n hoogs intelligente mens en ’n formidabele onderhandelaar wat met groot wilskrag en volharding daarin geslaag het om die diensvoorwaardes en werksomstandighede van lede te verbeter. Hy was veral ’n kenner van mediese en pensioenfondse en het hom toegewy aan die mediese en pensioenvoorsiening van pensioenarisse. Sy fotografiese geheue het hom in staat gestel om sonder notas lang stukke uit tersaaklike wetgewing en hofsake aan te haal.

Prof. Wessel Visser, Stellenbosse arbeidshistorikus, het Ungerer beskryf as ’n reguit man met sterk standpunte wat respek by sy teenstanders afgedwing het. Sy bydrae en rol moet ook aan die hand van die tye waarin hy geleef het, beoordeel word. Sy voorspellings dat arbeidshervormings sou lei tot landveranderings is uiteindelik bewaarheid. Sy leierskap was gekenmerk deur skoon administrasie en sy persoonlike reputasie was “totaal en al ontdaan van enige vorm van administratiewe of finansiële wanpraktyke”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

CHRISTA ·

Sou dit nie lekker wees om vandag nog sulke leiers te hê wat hulle nie aan ‘wanpraktyke’ skuldig maak nie. Sterkte vir sy familie. Onthou net – hy is nouin beter Hande.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.